Polisieman ondersoek ná kind se dood
2010-10-28
Lise Beyers
’n CHRISTELIKE jeugdiens het verlede Woensdagaand tragies geëindig toe ’n 13-jarige kind deur ’n Paarlse polisieman doodgery is. Die voorval het omstreeks 20:55 plaasgevind, toe ’n groep kinders, insluitend Andrea Fortuin, vanaf die Ou Apostoliese Kerk langs die R45, teruggestap het na die plaas Nieuwe Sion op die Bien Donné-pad. Hulle het ’n seël-voorbereidingsdiens by dié kerk bygewoon. Volgens Andrea se suster, Shadika Bosman (16), wat saamgestap het, het ’n blou VW Golf teen ’n hoë spoed van die Bien Donné-kant gekom. “Ons het op die gras langs die pad geloop en die motor het baie vinnig aangery gekom. “Toe die motor by ons kom, het die bestuurder skielik beheer daaroor verloor. Ons het uit die pad gespring, maar Andrea kon nie betyds wegkom nie. “Sy is deur die motor getref en het ver deur die lug getrek en is tot in die middel van die teerpad geslinger.” Intussen het een van die kinders na die plaas gehardloop om Andrea se ouers, Elsabé en Johannes September, oor die botsing in te lig. Hulle is dadelik na die toneel waar hulle op hul dogter se liggaam afgekom het. Die bestuurder van die Golf, wie se naam tans nie bekend gemaak mag word nie, is deur lede van die Groot Drakenstein polisie weggeneem om bloedmonsters te trek. Dié sal bepaal of hy onder die invloed van drank was. Hulle ondersoek tans ’n klag van strafbare manslag teen die bestuurder. Die September-gesin het vertel dat Andrea ’n gretige leerder in graad sewe aan Simondium Primêre Skool was, wat elke dag pligsgetrou op die skoolbanke gesit het. Die begrafnisdiens vind Sondag om 12:30 plaas in die Ou Apostoliese Kerk, Simondium. Sy word oorleef deur haar ouers en Shadika, asook nog ’n suster, Rosana Bosman (17) en ’n broer, Ashwin September. * A policeman is being investigated after a young girl died after being knocked down by his vehicle on a rural road.
More
News
|