Raadslid in die sop
2005-10-06
EEN van die kandidate vir die tussenverkiesing Woensdag in Wyk 13, stadsraadslid Sienah Saaiman, het skynbaar ’n paar finansiële probleme waaroor sy deesdae haar kop breek.
Die eerste hiervan is ’n selfoonrekening van R11 982 wat sy aan die Munisipaliteit verskuldig is.
Dit is nie die eerste keer dat raadslid Saaiman se selfoon haar sak hard slaan nie.
’n Paar maande gelede moes sy R20 000 opdok en dit met ’n selfoontoelae van ’n skamele R600.
Nog ’n swaard hang oor raadslid Saaiman se kop: onlangs is ’n lasbrief vir eksekusie teen haar uitgereik in die plaaslike Kleineisehof.
Dit spruit uit ’n saak wat Joseph Fredericks van Amstelhof teen haar gemaak het oor ’n bedrag van R8950 wat hy aan haar geleen het. Fredericks moes afstand doen van R1950, aangesien eise in die Kleineisehof nie R7000 mag oorskry nie.
Raadslid Saaiman moes op 30 Augustus in die hof verskyn, wat sy versuim het om te doen.
Dit het nou gelei tot die lasbrief, waarvolgens daar op haar bates beslag gelê sal word ten einde die skuld te betaal.
By navraag het die hoofsweep van die ANC in die Drakenstein stadsraad, David Xhaso, gesê die ANC vind dit vreemd dat die kwessie van skuld deur raadslid Saaiman nou ter sprake kom.
“Daar is in elk geval reëlings getref vir die afbetaling van skuld.
“Verskeie raadslede van die onderskeie politieke partye het ook skuld by die munisipaliteit.”
Oor die saak in die Kleineisehof, sê Xhaso: “Skuld tussen twee individue is ’n private en persoonlike aangeleentheid.”
Hy het die Paarl Post daarvan beskuldig dat die koerant die verkiesing namens ander partye of individue veg.
“Ek hoop dat ons reaksie volledig geplaas sal word.”
* A town councillor owes the Municipality R20 000 for cellphone calls.
More
News
|