PLAASLIKE talent van die Break-A-Leg dramaskool gaan eersdaags die verhoog saam met gesoute akteurs soos Crystal Roberts (7de Laan, Vallei van Sluiers en Die Ongelooflike Avonture van Hanna Hoekom) en Brendon Daniels (Vallei van Sluiers) deel.
Wat die produksie, Spore, ’n Reisbewys so uniek maak, is dat dit in die vorm van ’n kabaret aangebied word in ’n speelarea buite die Breytenbach-sentrum wat ’n verlate treinstasie voorstel. Die produksie is te sien op 9, 10 en 11 November om 19:30 by die sentrum op Wellington.
Die verhaal speel af op ’n verlate treinstasie waar reisigers op Hartstog-stasie verbete wag vir ’n trein om hulle te kom haal. Interessante karakters soos ’n nar wat mens word, ’n knorrige stasiemeester en die oordrewe toneelgeselskap wat hulself die Roamers noem asook die modieuse groepie dames, die Peron Evitas (oorspronklik van Pretoria), beloof om gehore se harte diep te raak.
Die konsep is gekonseptualiseer deur Sophia Passerini en Lindy Kriek, albei van Break-a-Leg, in opdrag van die Breytenbach-sentrum, en moontlik gemaak deur die National Arts Council (NAC).
Stephanie Hauptfleish (Hough) van onder andere Souttert Produksies en Spektrum Kinderteater het die raamwerk van die teks saamgestel wat verder deur die akteurs en Break-A-Leg bestuur ontwikkel is.
Oudisies is vroeër die jaar gehou en sowat 20 kinders van die gemeenskap het beurse van die Breytenbach-sentrum ontvang om vir die jaar drama by Break-A-Leg te neem.
Behalwe vir die jaar se onderrig (waartydens die meeste ook vir die eerste keer aan die plaaslike eisteddfod deelgeneem het) is dit ongelooflike blootstelling vir hierdie kinders om ook saam met gevestigde akteurs in ’n professionele produksie op te tree.
“Dit is vir my seker die lekkerste deel van my en Sophia se werk om met hierdie kinders te werk wat super-talentvol is, maar nie noodwendig ooit self vir dramaklasse sou kon betaal nie.
“Dit is ongelooflik om te sien hoe ’n kind positief kan verander en groei deur drama. Meer as die helfte van ons geborgde studente het ook hierdie jaar hoogste lof vir hul eisteddfod deelname ontvang,” het Kriek gesê.
“Ons samesmelting met die Breytenbach-sentrum is so ’n belangrike belegging in ons gemeenskap en drama as kunsvorm. Dit maak my so opgewonde om daagliks ’n liggie by jong aspirerende akteurs te sien aangaan,” sê Sophia.
’n Beperkte aantal kaartjies is beskikbaar. Bespreek om teleurstelling te voorkom. Kaartjies is R20, maar voorsiening sal gemaak word tydens vertonings om donasies te skenk vir soortgelyke gemeenskapsprojekte by die Breytenbach-sentrum.
Vir besprekings, kontak die Breytenbach-sentrum by 021-873-5169.