Stadig oor die klippe - kamera maak R1m wins
2005-10-06
DIE Drakenstein Munisipaliteit is ’n miljoen rand ryker - en motoriste wat die Bergrivier Boulevard gebruik, is R1 000 000 armer.
Dis nou vir boetes vandat die nuwe spoedkamera verlede maand in die boulevard geïnstalleer is.
Boetes vir die 2000 oortredings gedurende die eerste vier dae vandat die oog so knip vir dié met die voet swaar op die petrolpedaal, was reeds R500 000.
Die gemiddelde spoed van dié oortreders was 83km/u, met die hoogste spoed wat op die kamera verewig is, ’n haastige 145km/u.
Die disket in die digitale kamera word elke drie dae verander. Terwyl die 800 moontlike foto’s op die disket met die eerste uithaalslae propvol was, het dit nou reeds afgeplat na so 500 foto’s elke drie dae.
“Dit is baie verblydend dat minder oortredings gepleeg word, en dat die gemiddelde spoed van oortreders ook reeds gedaal het,” het 'n verkeerswoordvoerder gesê.
Terugbetaling
Alhoewel die kamera al Woensdag 7 September staangemaak (en geaktiveer) is, is die waarskuwingsborde eers laatmiddag die volgende dag opgerig.
Motoriste wat die Woensdag en Donderdagoggend met ’n flitsende kamera-oog betrap is, en tot hul ontsteltenis reeds boetes deur die pos ontvang het, kan ontspan.
Die boetes is R150 indien die bande met 72km/u oor die kabeltjies in die ryvlak gedreun het, en R250 indien die oog op 80km/u geflits het.
“Al die sake - tot 16:00 op 8 September - is teruggetrek,” het die verkeersowerhede bevestig.
“Motoriste wat reeds boetes betaal het, sal terugbetaal word.”
* Speed-trap cameras are a big moneyspinner for the Drakentein Municipality.
More
News
|