EK het onlangs ’n artikel in Paarl Post gelees waarin genoem word dat Paarlse eiendomspryse gedryf word deur “vraag en aanbod”.
Maar elders lees ek dat huise nou gemiddeld vir 22% laer verkoop as die vraprys - dit is ’n kopersmark, ’n feit wat sommige eienaars nie wil aanvaar nie.
So, as jy gedink het jou eiendom is R1,9 miljoen werd sal dit waarskynlik vir R1,4 miljoen moet verkoop om vir die koper die moeite werd te wees, anders maak die koper ’n verlies as hy/sy weer verkoop.
Dit blyk dat Paarl, en spesifiek die eiendomsagente, hierdie feit ignoreer. Daar is goeie skole in die Paarl, maar daar is goeie skole elders ook.
Jy kan nie jou eiendom in die Paarl aan studente verhuur soos in Stellenbosch nie, jou huurinkomste is vergelykbaar met enige ander plek in die Kaap.
Die agente dryf die pryse, want dit beïnvloed hulle kommissies. Ek het al huise gesien wat vir tot R2,2 miljoen in die mark is in dieselfde omgewing as skakelhuisies - dit maak net nie sin nie, maar die eienaars dink die prys is reg.
Eienaars besef nie self hoe maklik dit is om uit die hand te verkoop nie. Adverteer op plekke soos www.gumtree.co.za is gratis.
Al is jou eiendom by agente gelys mag jy nog steeds uit die hand verkoop behalwe as daar ’n alleenmandaat op die plek is of as die agent die koper by die verkoper uitgebring het.
’n “Aanbod om te koop”-kontrak kos R25 by die CNA. Oordragprokureurs doen die res.
’n Mens kan ook met die agent onderhandel oor die kommissie - die koper en verkoper besluit wat die prys en ’n regverdige kommissie gaan wees.
As ’n mens oor verkope navraag doen en jy kan ’n reguit antwoord by ’n agent kry is die verkoopprys baie laer as die adverteerprys.
Totdat almal van die goedkoopste tot die duurste besef daar was ’n resessie en pryse het afgekom, gaan die situasie nie verander nie.
Voornemende kopers soos ek begin kyk in ander areas soos die noordelike voorstede van Kaapstad.
My huis is uit die hand verkoop en ek het ’n noemenswaardige verlies gemaak, maar ek het besef en aanvaar hoe sleg die mark nou lyk vir verkopers.
Anoniem