PLAASLIKE talent van die Break-A-Leg dramaskool gaan eersdaags die verhoog saam met gesoute akteurs soos Crystal Roberts (7de Laan, Vallei van Sluiers en Die Ongelooflike Avonture van Hanna Hoekom) en Brendon Daniels (Vallei van Sluiers) deel.
Wat die produksie, Spore, ’n Reisbewys so uniek maak, is dat dit in die vorm van ’n kabaret aangebied word in ’n speelarea buite die Breytenbach-sentrum wat ’n verlate treinstasie voorstel. Die produksie is te sien op 9, 10 en 11 November om 19:30 by die sentrum op Wellington.
Die verhaal speel af op ’n verlate treinstasie waar reisigers op Hartstog-stasie verbete wag vir ’n trein om hulle te kom haal.
Die konsep is gekonseptualiseer deur Sophia Passerini en Lindy Kriek, albei van Break-a-Leg, in opdrag van die Breytenbach-sentrum, en moontlik gemaak deur die National Arts Council (NAC).
Stephanie Hauptfleish (Hough) van onder andere Souttert Produksies en Spektrum Kinderteater het die raamwerk van die teks saamgestel wat verder deur die akteurs en Break-A-Leg bestuur ontwikkel is.
Oudisies is vroeër die jaar gehou en sowat 20 kinders van die gemeenskap het beurse van die Breytenbach-sentrum ontvang om vir die jaar drama by Break-A-Leg te neem.
Behalwe vir die onderrig (waartydens die meeste ook vir die eerste keer aan die plaaslike eisteddfod deelgeneem het) is dit ongelooflike blootstelling vir hierdie kinders om saam met gevestigde akteurs in ’n professionele produksie op te tree.
Kaartjies is R20, maar voorsiening sal gemaak word tydens vertonings om donasies te skenk vir soortgelyke gemeenskapsprojekte by die Breytenbach-sentrum.
Vir besprekings, kontak die Breytenbach-sentrum by 021-873-5169.