DIE Paarl Amfiteater gaan die somervakansie gons met van Suid-Afrika se mees gewilde kunstenaars in aksie.
Op Vrydag 3 Desember, is platinum-verkopers Juanita du Plessis en Kurt Darren te sien tydens die Oppieberg-konsert.
Platinum-prinses Juanita du Plessis maak haar eerste verskyning by die amfiteater en beloof om die gehoor te vermaak met treffers vanaf haar nuutste CD asook immergewilde bekendes.
Juanita is bekend vir liedjies soos “Vlieghoog”,” Dowwe spore” , “Mengel- moeskardoes” en “Jou skaduwee”.
Acapella groep Navi Redd maak ook hulle buiging as gaskunstenaars en sal weer hulle verstommende talente met die gehoor deel.
Darren is onteenseglik een van die gewildste popkunstenaars in die land met etlike dubbelplatinum-uitreikings. Verskeie van sy liedjies is ook in Duitsland, Holland en België in ander tale uitgereik. Die sanger sal beslis die gehoor se voete laat jeuk met sy lekkerste liedjies en onweerstaanbare ritmes.
Konsertgangers kry ook die geleentheid om die amfiteater in ’n nuwe gedaante te beleef. Dit is die eerste konsert wat by die amfiteater aangebied word sedert die opgraderings en installering van ’n nuwe klankstelsel gedoen is.
’n Verskeidenheid kos- en wynstalletjies sal beskikbaar wees en hekke open reeds om 17:30. Geen piekniekmandjies word toegelaat nie.
Die prys van kaartjies wissel vanaf R110-R150 per persoon. Toegang vir kinders onder die ouderdom van vier jaar is gratis indien hulle op die ouers se skoot kan sit.
Skop die feesseisoen op ’n feestelike noot af saam met hierdie skitterende kunstenaars in ’n unieke ligging met asembenemende uitsigte oor die Wynland. Besprekings kan aanlyn gedoen word by www.cultivaria.com of skakel 021-872-9754.