ELKE maand betaal duisende lesers getrou hul korttermynversekering, min wetend dat dit hulle niks baat indien hulle nie die voorwaardes op die versekeringskontrak nakom nie.
Neem die voorbeeld van André en Christine Viljoen van die Paarl, wat al 15 jaar getrou versekering by Santam betaal. Nadat daar by hul huis ingebreek is en sowat R40 000 se goedere gesteel is, is hul eis afgekeur deur Santam en die versekeringsombudsman.
Hoekom? Die veiligheidshek by die agterdeur was nie gesluit nie, waarop die inbrekers toegang gekry het deur net ’n glaspaneel in die agterdeur te breek.
Die kontrak vereis dat die veiligheidshek te alle tye gesluit moet wees.
Die Viljoens voel gekul en meen hul eis sou geslaag het as hulle gejok het oor die veiligheidshek, maar dít is bedrog, volgens Brian Johnson, streekverkoopsbestuurder van Mutual & Federal in die Wes-Kaap.
Hy meen deur eerlike eise in te dien, word premies bekostigbaar gehou.
Verbruikers moet dink voordat hulle versekering uitneem en volgens Johnson is goeie dekking nie goedkoop nie. Hy glo dat kennis en beplanning ’n mens geld en hartseer kan spaar. Sy wenke is:
) Jy kry waarvoor jy betaal - premies verskil en ook die dekking wat jy kry. ’n Goedkoop premie beteken dalk dat “standaard” praktyke nie ingesluit is nie.
) Lees die poliskontrak noukeurig. Gaan al die “uitsluitings” en “beperkings” na. As jy nie die bewoording verstaan nie, vra vir ’n eenvoudige verduideliking.
) Kry dekking vir wat uiters noodsaaklik is: Besluit wat belangrik is en maak seker dat jy jou makelaar oor hierdie spesifieke artikels ingelig is.
) Jou polis behoort saam met jou te verander: As jy verhuis of jou leefstyl verander, moet jy jou versekeringsmaatskappy laat weet.
) Wees verantwoordelik: Onverskilligheid kan jou duur te staan kom. Wees verantwoordelik en tref eenvoudige voorsorgmaatreëls soos om die motordeure te sluit en veiligheidshekke by jou huis aan te bring (en dit gesluit te hou!); en deur geen artikels in die motor te los nie.
) Pasop vir oorversekering: Haal “oortollige” artikels uit jou polis.
) Pasop vir onderversekering: Dit is belangrik om met inflasie tred te hou wanneer jy jou besittings verseker anders kan jy later uitvind dat jy nie ’n uitbetaling van die volle vervangingswaarde kry wanneer jy eis nie.
) Grootte is belangrik: Dit betaal om by gevestigde versekeraars met ’n goeie naam vir gehalte en diens versekering aan te gaan.
Stuur jou pluimpie vir goeie diens of verbruikersklagte na edit@paarlpost.co.za.