Plaaswerker oorleef kobra se pik
2010-11-04
Lise Beyers
’n PLAASWERKER het verlede week by die dood omgedraai, toe hy deur ’n Kaapse kobra gepik is. Saul Clarke van die plaas De Hoop in Suider-Paarl, het Donderdagmiddag saam met ’n span werkers in ’n wingerdblok aan die hange van Paarlberg gewerk, toe sy aandag getrek is deur vroulike werkers wat histeries begin skree het. “Ek het nader gehardloop en gesien hoe ’n geelslang (Kaapse kobra), met sy kenmerkende geel lyf en spikkels, tussen hulle in die wingerd seil. Sy kop was opgelig en het in ’n aanvalsposisie bak gestaan. “Daar was ’n kissie wat daar naby gelê het en ek het dit opgetel en oor die slang van byna ’n meter lank gedruk. “Sy kop het onder uitgesteek en ek het hom aan die nek gegryp om in die kis te sit. “Dit is tóé dat ek my misgis en hy my aan die vinger beetkry.” Maar steeds was Saul nie afgeskrik nie. Hy het daarin geslaag om die slang weer beet te kry, en dié keer het hy hom in ’n bottel gedruk. “Die wond het erg gebrand en byna swart bloed het by die kneusmerke uitgeloop. Ek het agter die wond my vinger gemasseer om soveel bloed moontlik te laat uitloop.” Saul het ’n lappie om sy hand gedraai en die span weer bymekaar geroep om aan die werk te spring. Maar toe die plaasbestuurder op die toneel aankom en hoor van die storie, het hy vir Saul en die slang in sy bakkie gelaai en dadelik na MediClinic gejaag. “Teen daardie tyd was ek bewerig en my kop het begin draai. My vinger het soos ’n vuur gebrand.” Alhoewel Saul geweet het dat dit ’n Kaapse kobra is, het ’n dokter dit ook bevestig, en weens die uiters giftige aard van die slang, is Sauls oorgeplaas na die Cape Gate MediClinic. “In die Paarl het hulle my ’n inspuiting gegee en ek het eers laataand by die ander hospitaal wakker geword.” So is Sauls behandel en Vrydagmiddag ontslaan, maar Sondag sou dit blyk dat die gif weer deur sy liggaam getrek het. Weer eens is hy by Cape Gate opgeneem en Dinsdag is hy ontslaan. Indien Sauls nie so spoedig by die hospitaal uitgekom het nie, kon die slangbyt potensieel dodelik gewees het. Die gif van die Kaapse kobra affekteer die slagoffer se asemhalingsisteem en indien die slagoffer nie vinnig ’n teen-gif toegedien word nie, is daar ’n 60% moontlikheid dat die pik noodlottig sal wees. Die bekende slang-man van Drakenstein, Danie Malherbe, het gesê dat die beste ding om te doen as ’n mens van aangesig tot aangesig met ’n Kaapse kobra kom, is om doodstil te staan, want slange kan nie goed sien nie. “Dan behoort hy na ’n rukkie weg te seil. Maar as hy skrikgemaak word gaan hy aanval. “Ek vermoed in Saul se geval was dit ’n ‘droë’ pik. Dit gebeur dikwels dat ’n slang so ’n pik toedien wat nie baie gif bevat nie, net om sy vyand skrik te maak. Maar steeds sal die slagoffer genoeg gif toegedien word om hom baie siek en seer te maak.” En verder vertel Malherbe dat Paarlberg vol slange is, maar dit is eintlik net die kobras wat ’n erge gevaar is. “Hierdie tyd van die jaar raak dit warm en droog, en dan kom soek hulle water laer af in die berghange. “Diegene wat in gebiede woon waar die gevaar van slange is, kan ’n suigapparaat aanskaf om ontslae te raak van die ergste slang gif indien hulle gebyt word.” * A farm worker has survived a bite from a potentially lethal Cape Cobra.
More
News
|