EK het ’n vierjarige seuntjie en is baie lief vir hom, maar as hy verkeerd doen word hy getug - nie vir die lekker nie, maar omdat ek hom liefhet, en hy moet weet dat wat hy gedoen het, verkeerd was. So leer mens ’n kind om nie weer dieselfde foute te maak nie.
Ek was verlede week op pad huis toe, toe ek verby ’n dronkbestuurtoneel ry in Paarl-Oos. Die skuldige, ’n jong tiener, is deur ’n verkeersbeampte aangekeer.
Ek het my oë uit my kop geskaam net om te sien hoe die moeder haar kind se optrede probeer regverdig.
Hoe kan ’n mens dronkbestuur regverdig deur te sê jou kind het te veel water gedrink?
Moeder, ek vra jou wat sou jy gemaak het as jou kind iemand se dood veroorsaak het, of nog erger hoe sou jy gevoel het as ’n dronkbestuurder jou kind leed aandoen?
Hoekom probeer jy nie liewer jou kind reghelp deur die gereg sy gang te laat gaan nie - hoekom wil jy dit toesmeer?
Dink jy regtig jy help hom/haar of is jy dalk skaam vir wat ander gaan dink van jou as moeder?
Ons gaan nou die Kersgety in, dink net hoeveel onskuldige mense seer gaan kry deur astrante jong tieners wat dink hulle kan drink en bestuur asof die paaie aan hulle behoort.
Ek haal my hoed af vir die Drakenstein verkeersdepartement (wat gewoonlik die varke in die verhaal is net omdat hulle hul werk doen) - ’n mens kan sien hulle is toegewyde beamptes.
Ouers, dit is ons verantwoordelikheid om ons kinders te leer dat jy verantwoordelik is vir jou eie dade.
Ontstoke motoris