Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Radio-gogga dryf hom voort

Radio-gogga dryf hom voort
 
2005-10-06


DIE voormalige tegniese bestuurder van Radio KC, André Swarts, is pas aangestel as tegniese bestuurder van Radio Kansel.

André sê die radio-gogga het hom op skool al gebyt.

“Ek was gefassineerd met radio en luister reeds sedert hoërskooldae intens.

“Ek was ook ’n getroue deelnemer aan radio-kompetisies en -promosies van die hoofstroom kommersiële radiostasies.

“In 1996 kom ek te hore van ’n nuwe radiostasie wat vanuit die Paarl uitsaai en skakel toe in uit nuuskierigheid.

“Ek kon dadelik hoor dat dit ’n groep ‘locals’ was, uit die Paarlse Afrikaans wat hulle gepraat het.”

Hy sê die aanbieders was onafgerond met hul spraak en radio-klingels.

Gedurende sy matriekjaar (1997) by New Orleans Sekondêr het hy uit nuuskierigheid die stasie besoek en kort daarna aangesluit.

“Ek was van mening dat ek sekerlik iets kon doen aan die radio-advertensies (wat toe nog gelees was) en klank van die stasie.

“Ek het gematrikuleer en my elektroniese studies begin in Kaapstad en kort daarna weer teruggekeer na Radio KC.

“Ek het die heel eerste advertensie wat ooit op die stasie gespeel is geskryf en opgeneem, en sedertdien was ek aan stuur van die maak van alle advertensies.”

Sy eerste radioprogram was die “Local Top 20” waarin hy “ook maar lekker foute gemaak het en ook geleer het”.

Onder Franklin Huizies het hy gedien as tegniese, produksie en algemene bestuurder en het saam het hulle die stasie gebou tot waar dit vandag is.

“Nou is dit tyd om aan te beweeg, tyd om ’n nuwe uitdaging te soek.

“Wat ek by Radio KC gekry het, kan ek nou inploeg by Radio Kansel in Pretoria en mense se lewens op ’n nasionale vlak beïnvloed.”



More News

 
    [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za