HET jy al gewonder wat ’n gestremde persoon ná skoolopleiding doen?
Die Drakenstein Sentrum vir persone met gestremdhede in Suider-Paarl, is ’n welsynsorganisasie wat aan alle persone met gestremdhede werkswinkels aanbied, sodat hulle met die nodige vaardighede hul maksimum potensiaal kan bereik.
Dit is een van die vele welsynsorganisasies wat deur die Paarl Post Kersfonds gesteun word.
Hierdie sentrum bestaan reeds 25 jaar en was vroëer jare gelëe in Louwstraat naby Paarlstasie.
Tans word die gebou van die sentrum by die Paarl Vaardigheidskool van die staat gehuur en daar word in die werkswinkel werkskeppingsaktiwiteite aangebied vir mense met gestremdhede.
“Ons poog om hierdie persone met die hoogste graad van onafhanklikheid te laat funksioneer,” sê Lynette Williams, hoof maatskaplike werker van die sentrum.
Hul lewer dienste aan gestremdes so ver as Wellington, Franschhoek, Gouda en Saron.
Werkswinkels bestaan uit die “Timeless” naaldwerkprojek, die kontrakafdeling wat Satchwell help met die afwerking van elektriese elemente, ’n herwinningsprojek wat fokus op landbouprojekte in samewerking met Lomotek Polymers asook die aktiwiteitsgroep wat bestaan uit die laag funksionerende en geïsoleerde gestremdes waar hand vaardighede aangeleer word.
Hierdie groep spesialiseer in die maak van krale, verf, weef, en vele meer.
Die organisasie se befondsing word ontvang van die departement maatskaplike ontwikkeling wat slegs die maatskaplike werkers se poste subsidieer.
Daar is dus ’n groot tekort in die bedryfsuitgawes wat uit ander bronne (skenkings van die publiek) ingesamel word.
Een van die groot uitgawes is petrol, om die gestremdes na die werkswinkel te vervoer en om huisbesoeke te doen.
Mense wat verf, matte, kantoortoerusting, gordynstokke, koffie en suiker aan die organisasie kan skenk, kan Lynette kontak by 021-863-0446/7 of stuur ’n e-pos aan drakcentre@paarlonline.co.za.