Petroleen weer in die nuus
2010-11-11
TIEN jaar nadat ’n vrou van Pniel betrek is by haar man se moord, wil die stof steeds nie gaan lê om haar nie. Petroleen de Wet se man Deon, is op 1 Mei 2000 koelbloedig doodgeskiet in die egpaar se woning in Pniel, terwyl sy, hul kinders en huishulp in die woning weggekruip het. By nadere ondersoek is daar vasgestel dat Petroleen vir Ivan Benting betaal het om ontslae te raak van haar man. In 2004 is sy tot vier jaar tronkstraf gevonnis vir haar bydrae tot die moord en Benting tot ses, ná ’n hofsaak waarin sy aangevoer het dat sy nooit bedoel het dat haar man moet sterf nie. Vandeesweek was die gort weer behoorlik gaar om Petroleen, toe sy mense, glo familielede van Deon, begin afsit het van haar plaas. Alhoewel sy die wettige roete gevolg het en wel ’n afsettingsbevel bekom het om sewe gesinne te laat verhuis, het die gesinne ’n aansoek ingedien om die uitsetting ter syde te stel. Ten spyte van hierdie aansoek, het die balju Woensdag op die plaas toegesak en die eerste gesin op straat gesit. Maar voordat die balju die volgende dag met die uitsettings kon voortgaan, het die gesinne reeds teruggetrek in hul wonings in en geweier om te trek. Die saak kom in Desember weer in die hof voor.
More
News
|