Loffie wil rugbykoppe regkry vir nuwe seisoen
2010-11-11
Sieb Sieberhagen
DIE 2011-seisoen het aangebreek en tot dusver verloop alles volgens plan vir Loffie Elof, direkteur van afrigting van die Boland Kavaliers. Met die onlangse oorwinning in die provinsiale sewestoernooi nog vars in die Bolanders se geheue en nuwe spelers wat onlangs by die Bolanders aangesluit het, is die afrigtingspan en voorlopige oefengroep slaggereed vir die nuwe seisoen. Die spelers is nou besig met die tweede oefenweek en dit lyk of daar ’n goeie gees onder die voorlopige oefengroep heers. “Ons is nou besig met kondisionering en fiksheidswerk en sal die amptelike oefengroep wat uit 26 tot 30 spelers sal bestaan, aan die einde van Januarie aanwys. “Ek beplan ook ’n spesiale spanbou-oefening in die nuwe jaar om die spelers se koppe reg te kry. Ons het die afgelope seisoen die meeste drieë gedruk, maar ons verdediging het ons by tye in die steek gelaat. “Ons het baie keer die ander spanne teen die toue, maar ons kan nie die uitklophou plant nie. “Indien elke speler net 10% kan verbeter en met die nuwe sisteme in plek, kan die Boland Kavaliers goed van hulself rekenskap gee in 2011. “Spelers kan nie meer bekostig om in ’n gemaksone in te skuif en verseker te wees van ’n plek nie. Ons het nou twee baie goeie spelers in elke posisie. Die spelers sal nóú hard moet werk om hul posisies te behou,” sê hy. Die Boland Kavaliers het nie ’n begroting om topspelers te bekostig nie, maar kon wel daarin slaag om belowende spelers Wellington toe te lok. Drie van hulle is ook ou gesigte, wat reeds in vorige seisoene vir die Boland Kavaliers uitgedraf het. Die nuwe gekontrakteerde spelers is Alwyn Bester, losvoorspeler (Boland Kavaliers en Pumas), Eugene Butterworth, stut (Durbanville/Bellville Klub), Jonathan Francke, heelagter (WP o.21 en Maties), Marnus Hugo, skrumskakel (Boland Kavaliers en Griekwas), Allister Kettledas, vleuel, (Pumas en SWD Arende), Jerry Sofoku, slot (Durbanville/Bellville Klub), PJ van Zyl, losvoorspeler (Pukke), Elgar Watts, losskakel (Boland Kavaliers en die Pumas) en Braam Gerber, senter van die Blou Bulle.
More
News
|