Woedend oor sluiting van kliniek
2010-11-11
INWONERS van Magnolia en Amstelhof in die Paarl is geskok en stomgeslaan deur gerugte dat die Nederburg-kliniek, wat verskeie noodsaaklike dienste aan hulle lewer, moontlik binnekort sy deure gaan sluit. Hierdie belangrike dienssentrum in Plumbagostraat, Lantana, dien honderde mense wat in die omliggende gebied woon met basiese medikasie, asook voorbehoedmiddels. Maar nou dreig die owerhede om die kliniek se deure te sluit en die dienste te verskuif na die TC Newman Hospitaal, wat ’n hele ent daarvandaan is. Inwoners dink egter dat hierdie skuiwing nie billik is nie. Jacoba Meleis is net een van talle inwoners wat hul misnoeë hiermee duidelik uitgespreek het. “Ek self ontvang mediese dienste hier, en so ook my kleinkinders. Ek pas hulle op terwyl my kinders werk en ek kan nie ver loop nie. “Ook, hier by ons het ons ’n baie groot probleem met tiener-seks en as die Nederburg-kliniek sy deure toemaak, gaan die kinders nie ver loop om hul voorbehoedmiddels te gaan haal nie. Dan sit ons weer met ’n klomp ongewenste swangerskappe.” “Ons kry uitstekende, persoonlike diens hier en suster Riffel kyk goed na ons.” Verder vertel Christine Isaacs dat sy reeds vanaf Maystraat in Paarl-Oos na die Nederburg-kliniek toe stap en nie kans sien om nog verder te stap nie. Gemeenskapsleier Lilian Wellington sê die mense van Paarl-Oos word verwaarloos. “Eers het hulle die polisiestasie weggeskuif, en nou dít. Ons kan dit nie toelaat nie - hoe moet die mense dienste kry? Hulle kan nie so ver loop nie, veral as dit reën , en hulle het nie taxigeld nie.” Volgens ’n woordvoerder van die departement van Gesondheid, Joanne Otto, is die besluit om die kliniek te sluit, nog nie gefinaliseer nie. “Daar is verskeie kwessies wat in aanmerking geneem moet word voordat ’n finale besluit geneem kan word. Die kliniekgebou behoort nie aan die Departement van Gesondheid nie, en het te klein geword vir die hoeveelheid pasiënte wat dienste daar verwag. Gevolglik is besluit om die TC Newman Kliniek op te gradeer en dienste te konsolideer. “Die terrein van TC Newman is die eiendom van die departement en daar is genoeg spasie sodat die infrastruktuur verbeter kan word. “Die konsolidering van fasiliteite het tot gevolg dat bronne, soos byvoorbeeld personeel en spesifieke dienste, gesentraliseer word om koste-effektiewe kwaliteitsdienste in plek te stel, sodat die volle pakket van primêre gesondheidsdienste by een ruim en ten volle toegeruste kliniek wat goed onderhou word, te lewer.” * Residents of Paarl East are up in arms about the possible closure of a local clinic.
More
News
|