Indringers uitgekap vir brandpad
2010-11-11
Lise Beyers
PAARLIETE het die afgelope paar weke saamgeleef met die gedruis van kettingsae wat vanaf vroegoggend tot laatmiddag op Paarlberg woel. Die werk word gedoen om ’n brandpad aan die hange van Paarlberg voor te berei, om te keer dat ’n potensiële ramp weer plaasvind, soos tydens die verwoestende bergbrand van 2009. Tydens hierdie brand het die vlamme verskeie wonings aan die hange van die berg bedreig en dit is slegs weens die bystand en die hulp van die gemeenskap dat geen ernstige skade aan geboue aangerig is nie. Die huidige brandpad is 50m breed en word gemaak vanaf Hoër Meisieskool Paarl tot by die Voortrekkerterrein by Kloofstraat. Hierdie gebied is juis waar verlede jaar se brand ontstaan het, wat huise in dié omgewing in gevaar gestel het. Hierdie werk word aangepak deur die bekende en gerespekteerde pa-en-seun bosbouspan van Wellington, Barry en Jaco Stander. En die Standers weet van die uitroei van ongewenste plantasie. Sedert 1995 maak Barry en sy besigheid, Stemindiebos, hul stem dik en wis alles wat uitheems is dwarsoor die Bolandse berge en dale uit. Daar is al verskeie kere deur die Drakenstein Munisipaliteit pogings aangewend om ontslae te raak van die probleem van indringerplante. Maar keer op keer word dié halfhartige pogings gestaak weens ’n tekort aan fondse. Behalwe die feit dat indringerplante natuurlike waterbronne uitput en fynbos uitroei, skep dit ’n geweldige brandgevaar. “Daar is net een manier om hierdie krisis aan te pak, en dit is om ’n ordentlike taak hiervan te maak,” sê Barry “Dit moet van die staanspoor af ’n goeddeurdagte projek wees. Dit is ’n intensiewe proses om ontslae te raak van dié plante en dit moet aanmekaar opgevolg word.” Barry verduidelik dat wanneer indringers afgesny word, moet die stam en wortels met gif behandel word. Afgesaagde stompe moet verwyder word en daar moet elke nou en dan gekyk word dat die wortels van die boom wel vrek. Indien die boom weer uitloop, moet gif weer gegee word. So moet die gebied sorgvuldig behandel word om te verseker dat die indringers nie weer voorkom nie. Die gif wat gebruik word affekteer nie die groei van inheemse fynbos nie en hierdie sal nou floreer. Maar, vertel Barry, die huidige werk aan die hange van Paarlberg is glad nie genoegsaam nie. “Agter die brandstrook is ’n see van indringerplante, om nie te praat van die kloof agter die Voortrekkerkamp wat vervuil is van wattel- en dennebome nie. “Hierdie bome put onder andere die waardevolle Meulstroom uit en die munisipaliteit gaan ’n plan moet maak.” En inwoners moenie skrik as hulle vandag bollings rook vanaf Paarlberg sien kom nie. Indien die voorspelde reën vandag wegbly, word inwoners gewaarsku dat die manne van Stemindiebos die hope uitgekapte indringerplante aan die brand sal steek. En die Standers weet ook van brandbeheer. “Dit sal ten volle beheer wees en omdat die afgekapte bosse gebrand sal word in die brandbaan, is daar nie ’n gevaar dat die brand kan versprei nie.” * A fire-break has just been completed along the edge of Paarl Mountain in central Paarl, to protect properties in case of another mountain fire.
More
News
|