Aangerand deur stasiepersoneel
2010-11-11
Lise Beyers
’n TREIN-PENDELAAR is verlede week disnis geslaan deur sekuriteitsbeamptes by Huguenot-spoorwegstasie, omdat hy in die verkeerde klas op die trein gery het. Pieter Mouton het Donderdagoggend oudergewoonte ’n MetroRail-trein gehaal vanaf Mbekweni-stasie na Paarl-stasie om by sy werk uit te kom. “Omdat die trein soos altyd baie vol was en al plek wat ek en ’n ander paar manne kon kry staanplek was naby ’n oop deur, het ons vir veiligheid verskuif na ’n wa meer vorentoe op die trein. “Toe kom sekuriteitswagte en beveel ons om by Huguenot-stasie af te klim. “Ek het my vervies, want ek was angstig om betyds by die werk te kom en het vir hulle gesê ek sal inbetaal vir ’n ander kaartjie om in ’n ander klas te sit. “Hulle wou niks hoor nie en het op Huguenot my gestamp en gestoot tot binne in ’n kantoortjie. Hierna is ek daarvan beskuldig dat ek ’n swanger sekuriteitsbeampte gestamp het en een van die wagte het my oor die kop geslaan met ysterboeie en my hande is toe baie styf vasgeboei.” Tussen al die drama deur, kon Mouton daarin slaag om per selfoon kontak te maak met sy werkgewer, Gerhard Botha, wat dadelik na Huguenot-stasie is waar hy op ’n bebloede Mouton afgekom het. Hy het met die sekuriteitsbeamptes onderhandel om hom te laat gaan en hy het hom vir mediese behandeling geneem. “Al was Mouton verkeerd, was dit steeds nie nodig om hom so gewelddadig te behandel nie. Hy is ’n klein man en die sekuriteitswagte was almal baie groter as hy.” ’n Woordvoerder van MetroRail, Riana Scott, het die behandeling van Mouton betreur en moedig die publiek aan om sulke voorvalle dadelik aan die stasiemeester te rapporteer. “Dit bly wel ’n kriminele oortreding om sonder ’n geldige kaartjie te ry, ook as jy nie die korrekte kaartjie het vir die spesifieke klas van die trein nie.” * A man was beaten up by railway officials.
More
News
|