Hugenote gee Kersfonds 'n hupstoot
2010-11-11
NOG ’n plaaslike skool het vandeesweek ’n groot skenking gemaak aan die Paarl Post Kersfonds. Hugenote Hoërskool het met ’n civvie-dag voor die Curriebeker-eindstryd groot geld ingesamel vir welsyn, en R5000 aan die Kersfonds geskenk. Dan het ’n gereelde ondersteuner, “Een van Hulle”, R200 bygedra. Hierdie skenker was as kind ’n begunstigde van die Kersfonds. Saam met R400 van Biffy te Water Naudé bring vanjaar se insameling te staan op R7435. Daar is nog net vier weke oor om ’n bydrae te maak tot die Kersfonds, wat elke jaar fondse insamel vir die Wes-Kaapse Gemeenskapskas, wat sowat 30 verdienstelike plaaslike organisasies steun. Die Gemeenskapskas maak reeds aansienlik bydraes tot hierdie welsynsorganisasies in die Paarl Post se lesersgebied (sowat R727 000 die afgelope jaar) en lesers word uitgenooi om dié poging ’n hupstoot te gee met bydraes tot die 2010 Paarl Post Kersfonds. Alle plaaslike bydraes word in ’n afsonderlike bankrekening inbetaal en deur die Gemeenskapskas teruggeploeg in die Paarlvallei - geen bydraes van ons lesers sal aan begunstigdes buite die Paarl Post se lesersgebied uitbetaal word nie. Die Gemeenskapskas se begunstigdes in die Paarlstreek is die ACVV (Paarl, Noorder-Paarl, Paarlvallei, Wellington en Franschhoek), Rusoord-ouetehuis, Silwerkruin-ouetehuis, Oase Dienssentrum vir Bejaardes, Badisa Paarl en Wellington, Kindersorg Paarl & Distrik, Drakenstein sentrum vir liggaamlik gestremdes, Amado (perdeterapie vir gestremde kinders), Care Craft werkswinkel vir epilepsielyers in Wellington, Abbeyfield-tehuis vir bejaardes Wellington, Andrew Murray Kinderhuis, Paarl Haven nagskuiling, Saron Gemeenskapsdienste en Good Hope sielkundige dienste. Plaaslike kleuterskole en kindersorgsentrums wat steun kry, is Wielie Walie, Trompie, Sinethemba, Mamzana, Lingelihle, Ncebakazi (gestremde kinders), Amstel-nasorg, Little Stars en Siyakhula. Ander diensorganisasies wat ook steun kry by Gemeenskapskas is Sanra, Cansa, Rapcan, Famsa, Outisme Wes-Kaap, TB Care, Santa, Hospice, Dementia SA en Diabetes SA. Skenkings kan direk inbetaal word in die Gemeenskapskas/Paarl Post Kersfondsrekening 6215 202 9007 by FNB (taknr 261150) en faks die strokie na 086-270-3693 (aandag Kersfonds). Navrae by 021-870-4602.
More
News
|