Wemmershoek se pad van slagting
2010-11-18
Lise Beyers
NADAT die Wemmershoekpad onlangs weer die lewe van ’n jong vrou geëis het, word die veiligheid van die pad nou uiteindelik ernstig opgeneem. Ses weke gelede is Lizarne Leukes (20) dood toe die motor waarin sy ’n passasier was, betrokke was in ’n kop-aan-kop botsing. Die gebied waar die ongeluk plaasgevind het, is naby die afdraai na Val de Vie, waar die oppervlak van die pad uiters oneweredig is. Inwoners van die omgewing wil hê die pad van ‘slagting’ moet dringend opgradeer word. Op gedeeltes van dié pad het die teer al erg meegegee. Volgens diegene wat hierdie pad dikwels gebruik, kan hierdie dele juis veroorsaak dat selfs die versigtigste bestuurder beheer oor sy motor verloor. Ná die jongste ongelukke het werkers van die provinsiale paaie die pad deurgekyk en die swak plekke duidelik gemerk. ’n Boer op die Wemmershoekpad tussen Boschenmeer en Val de Vie, Billy Bourbon-Leftley, het al op verskeie van hierdie noodlottige ongelukke afgekom. “Hierdie pad is nie geskik vir die swaar verkeer wat dit dra nie. Die nuwe ontwikkelings hier het bygedra tot toenemende verkeer tussen Paarl en Franschhoek. “Die swak pad word ook verder verrinneweer deur vragmotors wat dit gebruik. Hoeveel lewens gaan hierdie pad nog eis?” Maar vandeesweek is daar ernstig begin werk aan die pad. Die pad sal ’n nuwe teeroppervlak kry en werk sal vir die volgende 12 maande duur. Motoriste kan verwag om in hierdie tydperk vertragings hiér te ervaar.
More
News
|