Apteek loop deur onder diewe
2010-11-18
Lise Beyers
TWEE stelle diefwering, ’n alarmstelsel asook geslote deure kon die afgelope naweek nie diewe stuit in hul strooptog nie. Dit is maar net een voorval van herhaalde inbraak by ’n besigheid in Huguenot. Diewe het waarskynlik Saterdag- of Sondagaand eers die diefwering afgesaag agter die Drakenstein Family Pharmacy in Jan van Riebeeckrylaan, voordat hulle die drade van die diefalarm geknip het, asook die Telkom-kabel. Hierna het hulle ’n sekuriteitshek oopgedwing en daarna nog ’n deur wat na die voorkant van die apteek gelei het. Hulle het hulself rustig gehelp aan veral sonbrille en reukweermiddels. Eienaar en apteker, Harwin Smith, sit nou met die hande in die hare. “Ek het tot alle uiterstes gegaan om my besigheid te beveilig, maar dit lyk asof niks bestand is teen diewe nie. “Wanneer so iets gebeur dan verloor ons baie geld weens die feit dat besigheid nie normaalweg kan voortgaan nie, asook al die herstelkostes wat ek moet aangaan.” Maar Smith is nie die enigste een wat onlangs in Huguenot deurgeloop het nie. By Allie’s Mark, enkele meters vanaf Smith se besigheid, is daar onlangs ook ingebreek en dieselfde metodes is gebruik.
More
News
|