Slang neem gemeente op horings
2010-11-18
KERKGANGERS het Sondag behoorlik geskarrel ná ’n kerkdiens, toe ’n slang sy verskyning gemaak het tussen die motors in die parkeerterrein. Ná ’n jeugdiens by Paarl-Vallei NG Kerk, het ’n kerkganger gesien hoe ’n reuse geelslang onder sy bakkie inseil. Dit het ook die aandag getrek van ander kerkgangers. Hierna is daar verskeie pogings aangewend om die slang, wat teen hierdie tyd by die as opgekriewel het, te verwilder. Die enjin is aangeskakel en water is onder die bakkie ingespuit, maar die slang het net al dieper weggekruip. Die DBV is geskakel, maar hulle is nie toegerus om slange te hanteer nie, en uiteindelik is Juanita Jordaan van De Vonds-slangsentrum buite die Paarl verwittig van die problematiese situasie. En sonder ’n bang haar op haar kop, krap sy en haar seun, Jan, met vangstokke onder die bakkie rond op soek na die geelslang. Uiteindelik, na ’n uur van sukkel, het Jordaan die nat, modderige geelslang vanuit sy wegkruipplek gepluk. Dit was toe ’n bielie van ’n slang wat ongeveer 1,5 meter lank was. Die verligte bakkie-eienaar kon uiteindelik huis toe gaan en so ook al die ander nuuskierige kerkgangers. Jordaan het gesê dat slange vanaf Paarlberg al hoe laer aftrek in die woongebiede in. “Hulle kom soek in tye van droogte water en kos in woongebiede, en sommer net ook ’n blyplek.” Jordaan het bygevoeg dat indien inwoners slange in hul erwe teëkom, moet hulle nie te erg skrik nie. “’n Slang is maar sku en sal nie sommer aanval nie. “Hy sal eerder wegbeweeg, maar indien die probleem kommerwekkend is, moet die hulp van ’n slangkenner ingeroep word om die slang te verwyder. Die publiek moet dit liewer nie self probeer doen nie. Dit kan uiters gevaarlik wees.” * A Cape Cobra caused much drama in the parking area of a local church, when it crawled onto the axle of the vehicle and refused to budge.
More
News
|