Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Eksamenstres van matrieks byna verby

Eksamenstres van matrieks byna verby
 
2010-11-18

Lise Beyers & Devidean Moses

BY Hoërskool Gimnasium se koshuis, Huis MacFarlane, heers daar tans ’n dawerende stilte.

Want 87 koshuisgangers is tans druk besig om hul matriek-eindeksamens te skryf.

Maar, vertel hulle, die vrees en angs wat hulle ’n maand gelede beleef het in afwagting van hierdie groot eksamens, is nou verby, en hulle is gemaklik ingewortel in die eksamenleefstyl.

“Dit is beslis makliker as die September-eksamens,” sê Carla Jordaan. “Die rooster is ook goed gespasieer, en ons het genoeg tyd om al ons werk weer deur te gaan.”

Maandag het hulle die Chemie-vraestel geskryf, sekerlik saam met Wiskunde die moeilikste vak.

“Dit was ’n billike vraestel en nie te maklik of te moeilik nie,” vertel Gideon Morris.

Die Wiskunde-vraestelle het hulle wel kop laat krap sê die meerderheid, maar Kobus Meyer meen dit was maklik. En terwyl hy dit sê rol sy mede-studente hul oë.

Hulle erken ook dat hulle ’n bietjie gesukkel het met hul Engels-vraestelle, maar was goed voorbereid en glo dat hulle die wa deur die drif sal trek.

Matrikulante van New Orleans Sekondêr (NOSS) wat gepols is oor die verloop van die eksamen, meen ook die eerste Wiskunde-vraestel was ’n kopkrapper.

Nicole West is baie bekommerd oor Rekeningkunde, maar voeg by dat die Wiskundige Geletterdheid haar grootste kopseer was.

Sy gaan volgende jaar Kantoorbestuurstudies doen aan die Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie (CPUT) in Wellington.

“Sodra die eksamen klaar afgehandel is, gaan ek see toe,” sê sy.

Skoolhoof Dennis von Willigh meen dat van die dinge soos die onderwysstaking wat vanjaar gebeur het, dalk ’n negatiewe impak gehad het op die ingesteldheid van matrieks, maar die skool het sy uiterste bes gedoen om studente by te staan met hul werk.

“Ons het telematic-klasse en ekstra klasse vir die vakke aangebied”.

Hy glo nie daar sal ’n negatiewe impak wees op die uitslae nie.

Candice Sampson, toekomstige fotograaf, wil graag vakansiewerk doen, sodat sy haar volle aandag aan ’n kursus in fotografie in 2011 kan skenk.

“Sjoe, maar is ek net verheug dat ek Fisiese Wetenskappe klaar geskryf het.”

Shannon Scholtz sal in 2011 haar studies voortsit met ’n kursus in Sportbestuur by CPUT.

“Vir my was hierdie ’n interessante en lekker eksamen, maar net die Wiskunde - dit was nie so lekker nie,” sê sy.

Garth van der Westhuizen stem saam.

“Ek is darem bly dié kopseer is amptelik verby.”

Hy wil by CPUT op Wellington ’n rekenmeesterskursus voltooi. Intussen sal hy hom besig hou deur deeltyds ’n platejoggie te wees om so sakgeld te werf vir die Kersvakansie.

Jamie-Lee Moss beoog om volgende jaar ’n rusjaar te neem, daarna wil hy in 2012 onderwys studeer by CPUT in Wellington.

En wat doen hulle tussen hul studies deur om ’n bietjie te ontspan?

“Gym!” is die algemene antwoord. “Ons voel dat oefening ons laat ontspan en dan ook laat kans sien vir die volgende studiesessies.”

“Maar ná hierdie eksamen gaan ek heel vakansie partytjie hou,” sê die opgewonde Jamie.

Soos die ander blink sy oë by die vooruitsig van die lang vakansie wat voorlê.

“Tussen my vakansiebeplanning deur,” spot Salomi Dippenaar, “kry ek ook kans om te studeer.”

Matrikulante skryf vandag Geskiedenis, en môre Afrikaans. Die eksamen eindig 3 Desember.




More News
  • Gasheer vir stoei
  • Show-jumping inter-schools at Evergreen
  • Met 'n groot glimlag vorentoe
  • Wiese uit sy nate oor oorsese toer
  • Boishaai gesels saam met grotes
  • Paarl Juniors hit five
  • Sixteen teams in soccer tournament
  • Alexa skrik nie vir 300 doele nie
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za