Op die hande gedra in moeilike tyd
2010-11-18
NIE in ons wildste drome het ons kon dink dat ons as familie so ’n groot ondersteuning van ’n begrafnisonderneming sou geniet nie. Dis met deernis in hul oë dat hulle na jou kyk en probeer sê “als sal regkom”. Ons is op die hande gedra en het alle dokumente by hulle gelos sodat Juliana alles namens ons kon behartig. Die pakkette was bespreek, maar daar was geen druk op ons geplaas vir enige deposito nie. Ons moet aangaan met ons ander planne en sy sou ons laat weet as sy ons geliefde en al haar dokumentasie sou laat haal. ’n Privaat-skouing by die onderneming in Jan van Riebeeckweg was gereël en ons kon ons geliefde se hare gaan droogmaak (dit was klaar gewas) nadat een van die personeellede ’n kort gebed gedoen het. Hulle sou daarna haar hare kam soos my suster dit altyd gedra het. Dit het regtig gehelp met die proses van verwerking. Met die begrafnis die Saterdagoggend aan’t huis het my ma in trane uitgebars; nie net omdat sy haar dogter moes begrawe nie, maar omdat sy nie kon glo dat haar gestorwe dogter met soveel respek behandel word deur vreemdelinge nie. Elke personeellid, insluitend die motorbestuurders, was baie geduldig en tegemoetkomend teenoor ons as familie. Ons waardeer dit. Samuels-familie
More
News
|