Toekennings vir persele
2010-11-18
DIE Verfraaiingskomitee in Wellington het onlangs toekennings oorhandig aan sakelui wat met goedversorgde persele die afgelope jaar ’n bydrae tot die dorp se voorkoms gemaak het. Hierdie jaar is die toekennings tydens die jaarlikse sakekamerdinee op 5 November oorhandig. Dit is nie ’n kompetisie nie. Die ideaal is dat elke kafee, sake-onderneming en fabriek sy perseel sal skoon en netjies hou en verfraai. Sodoende kan die netheid van die sakekern verbeter word. Dit is die deel van Wellington wat die algemene publiek en toeriste sien en wat die beeld van Wellington uitdra. Sakepersele word in twee hoof kategorieë verdeel, naamlik gasvryheidsbedryf (groot en kleiner) en sakepersele (groot en kleiner) en toekennings word gemaak in drie klasse naamlik goud, silwer en brons. Persele word deurlopend deur die jaar geëvalueer en daar word ook in elke kategorie ’n wisseltrofeewenner aangewys. ’n Nuwe kategorie is onlangs bygevoeg vir individue wat in die historiese deel van Wellington eiendom sinvol gerestoureer of opgeknap het of ’n nuwe gebou in gepaste styl opgerig het. In die kategorie Netjies Opgeknap is toekennings gemaak aan Philip en Sona Johnston vir hul eiendom in Bainstraat, Thys en Carien Smith vir Kinderland in Murraystraat 1A, Chris en Lize Hattingh vir Burgstraat 66 en 66A asook Rassie en Susan Marais vir hul huis Lombardsrus in Hoofweg. In die kategorie Restourasieprojekte het Deon en Eleanore Booysen ’n toekenning ontvang vir hul woonhuis in Burgstraat. In die kategorie Nuwe Projekte in die historiese kern het Irene Strydom ’n toekenning gekry vir haar nuwe huis by Burgstraat 66B en John-Henry Enslin vir die nuwe woonstelkompleks in Bainstraat. Die wisseltrofeewenners was Redemption (klein sakepersele), Pacmar (groot sakepersele), Bazil ’n Beetroot (gasvryheidsbedryf - klein) en Kleinevalleij (gasvryheidsbedryf - groot).
More
News
|