Bennie Wiggins is Wellington se sakeman van die jaar
2010-11-18
TYDENS die jaarlikse Sakekamerdinee op Wellington is motorhandelaar Bennie Wiggins aangewys as die Sakeman van die Jaar. By die geleentheid het hulle ook meriete-toekennings oorhandig aan Amanda Kreizer en Attie Barnard vir diens wat hulle aan die Wellington-gemeenskap gelewer het. Bennie woon reeds die afgelope 37 jaar op Wellington, vandat hy en sy broer Citrona Motors in 1973 gekoop het. Deur die jare het hy homself gevestig as ’n persoon wat betrokke is in die gemeenskap en vir ander omgee. Hy is ’n man van min woorde, maar sy vriende en werknemers ken hom as iemand wat bedagsaam is en altyd bereid is om die ander kant van die saak aan te hoor en iemand wat uit sy pad gaan om ander te help. Bennie het Citrona Motors deur die jare uitgebou tot ’n bekende baken in Kerkstraat, Wellington. Deur die jare het hul op die voorpunt gebly van vernuwing in die bedryf en in 2007 is die onderneming herdoop tot Bainsford om gestalte te gee aan die nuwe visie wat Bennie vir die besigheid het. Deur die moeilike ekonomiese tye slaag Bainsford daarin om steeds in die bedryf te oorleef en is hulle tans die enigste handelaar van nuwe voertuie in Wellington (nadat daar vroeër jare tot vyf nuwe voertuig-handelaars op die dorp was). Die onderneming verwerf die afgelope jare twee maal die toekenning as Handelaar van die Jaar by Ford en was verlede jaar naaswenner in die kategorie Klein Platteland, met 50 mededingers. Bainsford is op vele terreine in die gemeenskap betrokke. Hulle het die afgelope jare sportspanne geborg by verskeie skole. Verder is hulle ook betrokke by die jaarlikse Derby tussen Bergrivier en Weltevrede Hoërskole. Hulle borg ook al vir baie jare die dienste van die ACVV-welsynsorganisasie se voertuie. Ook by gholfdae, CPUT-karnaval, die Wilde fietswedren en die jaarlikse Oesfees sal die publiek hul raaksien as borg. Bennie en sy span bly toegewy aan voortreflike diens en gehalte-produkte. Bennie se groot passie is sy wedvlugduiwe; ’n stokperdjie wat hy al vanaf sy kinderdae beoefen. Hy doen ook baie om die duiwesport onder jong mense te bevorder deur te dien as mentor.
More
News
|