EK het my bestuurderslisensie in die tagtigerjare gekry - mense maar wat ’n stryd was dit!
Ons besluit ek moet ’n karretjie kry en begin Sondagmiddae window shopping doen in Hoofstraat en Lady Greystraat af. Daar staan sy toe in die vertoonlokaal vir R2 900 (R300 deposito), maandeliks R69. Klaar gedoop Lady Jane.
Daardie dae was banke nog simpatiek as jy wil geld leen en uiteindelik het manlief die sleutels in sy sak en R10 in die tenkie. Kinders, Pa en Ma sweef soos ’n arend.
Maandag koop Ma ’n boekie vir R5 en gaan leerlingbestuurskool toe. Pa help, want hy was mos al daar. Ma gaan vir ’n afspraak by stadsaal. Daardie tyd kry jy binne drie weke ’n datum. Dis net padtekens en sirkels tussen die kospotte en skoolklere.
Die dag breek aan en ek slaag die toets met vlieënde vaandels. Pa gee nou les en ons is op naweke nie meer op goeie voet nie, met dié dat ek Lady so laat seerkry.
My eerste uitpassering was een groot nagmerrie. Hier sit ons tien mense en ruil nog wenke uit, toe sien ek die blou uniform en my maag gee net een ruk.
Hy sê, “Ek soek daardie vroumens. Deesdae wil almal mos ry plaas van agter kospotte huiswerk te doen...”
Daardie jare was dit apartheid en hier kom nou ’n kleurlingvrou wat wil bestuur. Kobus Wiese is groot, maar my meneer ewenaar hom. Ek bewe.
Ek kom uit die parkering, om die blok, slaag by die paaltjies en bultjies mooi, maar o wee, waarnatoe stuur meester my dan nou. Tog net nie berg op nie asseblief meester ek is allergies vir berge - maar meester weier.
“Jy sal ry waar ek jou stuur. “
Ek weet nie of ek mens is nie, want meester neurie ’n deuntjie terwyl die sweet emmers van my afloop.
Net daar stop ek, voor meester ’n wewenaar nalaat en ek vir Lady verloor voor die eerste afbetaling.
So moes meester maar self terugbestuur.
Die goeie nuus is dat ek, na heelwat opleiding deur my man, uiteindelik die toets geslaag. Jammer ryskole, ek is al 25 jaar agter die stuur!
J Brink, New