ONS was eens ’n gelukkige gesin, totdat TIK sy intrek kom neem het.
Ek kan nie meer nie, ek het al alles gedoen, alles probeer. Ons is deur hel...
Ek is ’n enkel-ma, en ons het goed gelewe. Maar nou is ek in die grootste finansiële moeilikheid sedert my kind begin TIK het.
My geld het weggeraak uit my beursie, die ander kinders se klere en tekkies en alles wat waardevol is, raak weg.
Ek het geen juwele meer nie, alles is gesteel. Ek werk net vir skuld.
Ek was al by almal: dominee, maatskaplike instansies, sielkundige. Almal het kom praat en raad gee, maar niks het gehelp nie.
Ons moes in die nag vlug, ek het hom al laat opsluit, ek het hom al probeer uitsit, maar hy klou soos ’n neet. Hy het dit altyd ontken as jy met hom praat.
Totdat hy so ’n paar maande terug vir my ’n brief skryf en sê hy wil gehelp wees, ek moet hom wegstuur.
Ek het moeite gedoen en geld gaan leen by die bank (wat ek natuurlik nou moet dubbeld terugbetaal) om hom te kan help. Almal het my gewaarsku moenie, want dit gaan nie help nie.
Maar ek het my kind geglo, ek het geglo, vertrou, gehoop God gaan ’n wonderwerk laat geskied.
Dit het vir ’n paar weke goed gegaan nadat hy teruggekom het, maar ek het nou met ’n skok ontdek hy doen dit weer! Hy het ’n tydelike werk, maar ek kry niks geld nie! Hy het altyd die een of ander storie.
Ek sit elke dag by my werk en moet lag en gesels met almal, maar niemand ken die pyn in my hart nie. Die grootste hartseer is dat hy iewers langs die pad sy maniere en respek verloor het.
Die eintlike rede hoekom ek hierdie brief skryf, is om vir ouers wat kinders het wat nie TIK nie, te sê: mamma, pappa, val op jou knieë en dank God dat jou kind nie ’n dwelmverslaafde is nie.
Koester hom/haar, want dis so maklik om te begin eksperimenteer, en dan’s dit koebaai met jou. Dit is ’n hel wat ek nie vir my grootste vyand toewens nie.
Dit is maar net ’n druppel in die emmer wat ek hier sê, ek kan eintlik ’n boek skryf…
’n Gebroke mamma