Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Groot werk by klein gemeente

Groot werk by klein gemeente
 
2010-11-25

Anne Kruger

RESTOURASIEWERK van meer as ’n half miljoen rand word tans aangepak deur die Nederduitsch Hervormde Gemeente van die Paarl, om te verhoed dat hul historiese kerkgebou vervalle raak.

Die klein gemeente van 160 lidmate pak hierdie reusetaak aan met die hulp van hul sustergemeentes, nadat die historiese kerkgebou (die ou Zionskerk in Zionstraat) erg agteruit gegaan het.

Die pragtige gebou is in 1842 opgerig as kerkgebou van die NG Sendingkerk (vandag die VGK) nadat Het Gesticht (die klein slawekerkie in Hoofstraat) te klein geword het.

Die gebou in die Gotiese styl was bekend as die Zionskapel, en is ontwerp deur die bekende kerkargitek Carl Otto Hager. Die gebou kon 500 mense huisves. In 1896 is ’n suid-vleuel aangebou weens groeiende getalle, wat die kerk ’n T-vorm gegee het, en die preekstoel is verskuif na die noordermuur.

Die gemeente het toenemende probleme ondervind weens die afdwing van die Groepsgebiedewet in die 1960’s. In 1964 word ds IJ Theron na die gemeente beroep, maar hy mag nie in die pastorie langs die kerk intrek nie, omdat dit ’n blanke woongebied is.

Al hoe meer gemeentelede is weens die Groepsgebiedewet gedwing om te verhuis na Paarl-Oos, en ten einde raad is ’n nuwe kerkgebou in Klein Drakensteinweg opgerig. Die gemeente het in 1977 verhuis daarheen.

Die verlate ou Zionskerk is deur die staat onteien en het daarna lank leeg gestaan. Boemelaars het daar nes geskop en skade aangerig.

Die bekende sakeman en rugbyfiguur Jan Pickard (oorspronklik van die Paarl) het uiteindelik die kerk en aangrensende pastorie gekoop en gerestoureer om dit van verval te red.

Daarna het die NHK die kerkgebou gekoop en in 1984 oordrag geneem.

Herstelwerk het vanjaar noodsaaklik geword aangesien die gebou nie meer veilig was om te gebruik nie. Die houtvloere moes vervang word, herstelwerk moes gedoen word aan die dak en die elektriese stelsel moes versien word.

Enkele ander veranderings is ook aangebring in oorleg met die Paarl 300 Stigting om die gebou te restoureer soos dit was vóór die veranderinge wat in 1896 aangebring is. Dit sluit in dat die preekstoel verskuif is na sy oorspronklike posisie teen die westermuur, en dat vensters wat toegebou is, weer oopgemaak is. Die pragtige preekstoel, soortgelyk aan die een in die Strooidakkerk, spog met ’n houtbasis wat geverf is om soos marmer te lyk.

Die herinwyding van die opgeknapte gebou word Sondag om 10:00 gevier met ’n erediens.Daar word beoog om die gebou voortaan oop te stel vir besoek deur toeriste op die Paarl se historiese geboueroete, asook vir gebruik vir troues en ander geleenthede soos konserte. Vir navrae, kontak 083-414-0166.

* The historic old Zion Church in Paarl has undergone extensive renovation.




More News
  • Musikant sterf na perdry-tragedie
  • Land-grab chaos in Mbekweni
  • Hawelose-probleem in Paarl aangepak
  • Man in die knyp oor dwelms
  • Sparks fly at Working for Water
  • Delegation to tackle housing problems
  • Diewe takel Wellington besighede
  • Misdadigers sit lank
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za