Gansies val vas in fontein
2010-11-25
Lise Beyers
LEDE van die Drakenstein Brandweer het Maandagoggend tot die redding gekom van ’n kroos kolganse wat die pad byster geraak het. Die ses donserige knapies is Maandagoggend opgelet in die fonteintjie buitekant die Paarl Streekhof, oorkant die stadsaal. Dit was waarskynlik hul eerste uitstappie met hul ma vanuit die nes waar hulle uitgebroei het. Eers het hulle heel salig voorgekom waar hulle in die hitte van die dag afkoel. Maar toe raak ma kolgans gretig om die pad verder te vat na die Bergrivier, en daar kom sy agter dat haar ses kleuters nie uit die fonteintjie kan klim nie. Sy het al kwakend om en om die dammetjie geswem met haar stringetjie al agter haar aan. En hoe meer sy besef dat daar nie ’n maklike manier gaan wees om haar kleintjies na veiligheid te bring nie, hoe harder het sy begin raas. Maar daar kom die operasionele hoof van die brandweer, Derek Peceur, tot hul redding, en hy ontbied versterkings om met die reddingspoging te help. So is twee brandweermanne, met broeke tot bo hul knieë opgerol, binne die vuil water in om die bondeltjies dons te red. Maar makliker gesê as gedaan. Eers het die gansies hul lyfies diepsee-duiker gehou en in die donkertes ingeduik om van hul redders te ontsnap. Dit het ’n goeie halfuur geduur van in die water ronddans agter die eendjies aan, voordat hulle uiteindelik na veiligheid gebring is. Een kleintjie het wel daarin geslaag om te ontsnap en het weer koers gekry water se kant toe. Maar hy is vinnig uitgehaal. Die kroos is in ’n boks geplaas en deur ’n brandweerman na die Bergrivier geneem, met ma-eend wat ’n wakende oog vanuit die blou lug gehou het. Eers veilig in die rivier, het ma by hulle aangesluit, hul een vir een getel om vas te stel dat hulle almal daar is, en toe het hulle die rivier hul tuiste gemaak. * Paarl firemen had a hard time saving Egyptian goslings from a fountain in Paarl.
More
News
|