Wellington-CPUT wen op 'n drafstap teen Weskussers
2010-11-25
DIE eerste krieketspan van Wellington-CPUT het Saterdag op Wellington in ’n 45-beurt-kompetisie op ’n drafstap met Vredenburg/Saldanha afgereken. Die Weskussers het eerste gekolf en ’n telling van 205/6 opgestel. D. Smith 62 en T. Kannemeyer 56* het goed gekolf vir die span van die Weskus. Steeds was hierdie telling nie genoeg vir die span van Wellington nie. Wellington het die wedstryd in die 40ste beurt beklink en met 7 paaltjies gewen deur 210/3 aan te teken. Warren Groeneveld (77*) en Bronwell Williams (64) het uitstekend vir Wellington gekolf en gesorg vir ’n maklike oorwinning. Sondag was dit egter ’n perd van ’n ander kleur toe die eerstes van Wellington teen Brackenfell in ’n 40-beurt- kompetisie met 32 lopies verloor het. Brackenfell het 181/6 in hul toegelate 40 beurte aangeteken en Wellington kon slegs 149/6 aanteken. Die tweede span van Wellington het die naweek teen Piketberg II met 175 lopies gewen. Wellington het eerste gekolf en 286/10 aangeteken. Wiehan Pietersen 95, Edward Small 56 en Cedric Williams 44 het goed gevaar met die kolf vir Wellington. Wellington II het daarna vir Piketberg uitgeboul vir 111 lopies. Edward Small 3/11 (in 4 beurte) en Garth Abrahams 2/21 (in 7 beurte) het die beste met die bal gevaar. Eerskomende naweek speel Wellington I teen Victoriane I (te Stellenbosch) en Wellington II teen Paarl II op die Parysvelde in die Paarl.
More
News
|