Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Kroegrowers vas

Kroegrowers vas
 
2010-11-25

Lise Beyers

VIER gewapende rowers is die afgelope naweek vasgetrek nadat hulle ’n drankwinkel in Huguenot beroof het.

Die roof het Saterdagmiddag om 13:30 plaasgevind toe ’n groep mans by die Standard Bar in Jan van Riebeeckrylaan ingestap het.

Hulle het twee kassiere met vuurwapens gedreig en twee van hulle het toegang verkry tot die agterkant van die winkel deur ’n staalhek.

Die eienaar, Riaan Loubser, vertel dat hy besig was om toesig te hou buite die winkel, terwyl ’n versending bier afgelaai is.

“Die mans het hul pad gevind na ons kantoor waar hulle al die geld ingepak het. Hulle het ook die kassiere se selfone gevat en die hasepad gekies.

“Ek is agter hulle aan en het hulle tot by die voetoorgang van Huguenot-stasie gevolg. Hiér het ’n verdagte voertuig gestaan en die insittende daarvan het uitgespring en saam met die ander gevlug.

“Ek is verder agter die mans aan, maar in Distilleryweg het hulle verdwyn.”

Intussen het lede van die Paarl polisie, honde-eenheid en sekuriteitsbeamptes op die toneel toegesak.

’n Ooggetuie in Distilleryweg het hulle ’n beskrywing gegee van ’n motor waarin die verdagtes glo weggejaag het in die rigting van Oosboschstraat.

Die polisie het die spoor gevolg, asook die Mbekweni polisie verwittig om op die uitkyk te wees vir die voertuig en verdagtes.

Die jaagtog het gelei na Drommedarisstraat en vier verdagtes is hiér tussen opslaanhuise naby die Mbekweni-stasie in hegtenis geneem.

In hul besit is R67 000 gevind, asook ’n selfoon.

Die voertuig wat gevind is by Huguenot-stasie, is in Gugulethu gesteel en het vervalste Paarl nommerplate.

Die motor waarin die voortvlugtiges ontsnap het, is ook gesteel.

Volgens Loubser is daar nog verdagtes op vrye voet, aangesien vriende van die kassiere oproepe vanaf hul gesteelde selfone ontvang het, wat hulle dreig.

Die vier verdagtes het vandeesweek in die Paarl Landdroshof verskyn en is almal van Gugulethu.

Hierdie nuutste gewapende roof kom kort op die hakke van ’n gewapende roof verlede Woensdag by Welgeleë Plein in Wellington.

Hiér het tussen agt en tien mans toegang verkry tot die winkelsentrum vroeg in die oggend, en het by ’n oogarts ingebreek, asook ’n drankwinkel. Sonbrille en drank ter waarde van derduisende rande is gebuit.

Die mans het in ’n voertuig, vermoedelik ’n bakkie, gevlug en niemand is tot dusver in hegtenis geneem nie.

* Four men have been arrested in possession of thousands of rands following an armed robbery at a liquor store in Huguenot.




More News
  • Musikant sterf na perdry-tragedie
  • Land-grab chaos in Mbekweni
  • Hawelose-probleem in Paarl aangepak
  • Man in die knyp oor dwelms
  • Sparks fly at Working for Water
  • Delegation to tackle housing problems
  • Diewe takel Wellington besighede
  • Misdadigers sit lank
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za