Paarlse meisies kook!
2005-10-06
Engela Duvenage
’n LEERDER van Paarl Hoër Meisieskool, Neelke Stadler (graad 11), het die eerste plek ingeneem in vanjaar se landswye teoretiese Huishoudkunde Uitdaag, wat deur die Universiteit van Stellenbosch se Departement Verbruikerswetenskap aangebied is.
Dié kompetisie is die jonger sussie van die 22ste nasionale Huishoudkunde Olimpiade, en word aangebied om leerders blootstelling te gee aan dié teoretiese olimpiade.
Die wenners is onlangs op Stellenbosch by die Departement Verbruikerswetenskap aangewys.
Benewens kontantpryse vir haarself en vir haar skool, het Neelke ook resepteboeke en ’n geskenkpak van Moir’s gewen.
Neelke se skool het ook ’n algehele tweede plek in die Uitdaag behaal, ná York High van George. Hoërskool Bellville was derde, gevolg deur Bloemhof op Stellenbosch.
Bykans 900 leerders het aan die Uitdaging deelgeneem, met meer as ’n duisend wat die Olimpiade self geskryf het. Tweehonderd skole het deelgeneem.
’n Goeie voorbeeld is vir Neelke gestel deur die wenner van vanjaar se Huishoudkunde Olimpiade, Alischa Strydom, ’n graad 12-leerder van Hoërskool Delmas in Mpumalanga.
Sy was verlede jaar ook die wenner van die Uitdaag-kompetisie, wat daarop gemik is om jonger leerders vir die nasionale Olimpiade voor te berei.
Die Paarliet wat die beste in die Huishoudkunde Olimpiade gevaar het, was Magriet Combrink van La Rochelle, wat gesamentlik 9de geëindig het.
Inge van Heerden van Hoër Meisieskool Paarl het ’n gesamentlike 10de plek behaal.
Hoër Meisieskool La Rochelle het ook goed gevaar in die kompetisie, deurdat die span van Maryke Jansen van Rensburg, Elani Saaiman, Hannelie le Roux, Bernice Drake en Elzanne Nel aangewys is as die skool wat as groep die beste prestasie gelewer het in die Kleding-afdeling van die Olimpiade.
* Paarl schools have shone in home economics competitions.
More
News
|