SELFOON TV-uitsendings het reeds in die Paarl begin. Toetse op sekere fone is begin en die kanale kan tans gratis ontvang word tydens die toetsperiode.
Daar sal ook ’n “Drifta” koppelmodule vir skootrekenaars en Ipads beskikbaar wees om die kanale ook op dié toestelle te kan sien.
Die sender is op ’n hoë gebou geplaas aan die onderpunt van Lady Greystraat.
Die frekwensiekanaal wat gekies is (kanaal 35), lê reg langs kanaal 37, ’n TV-kanaal. Baie M-Net dekodeerders asook video- en opneem-DVD’s se frekwensie lê presies bo-op kanaal 35.
Indien u dus skielik die laaste paar dae visgraatpatrone of selfs geen beeld gekry het op sekere kanale of u video, sal die kanaal waarop u masjien na die TV deurspeel, geskuif moet word.
Volgens Marius Horne van Cathmar TV & Radio het hulle reeds verskeie klagtes hieroor gehad in die laaste paar dae.
In die meeste gevalle kan die probleem redelik goedkoop uitgesorteer word. Dit behels net die totale oorinstel van al die apparaat asook TV-stelle.
Kontak 021-872-1346 indien probleme ondervind word.