LIEWE gebroke Mamma, na aanleiding van jou brief in die Paarl Post verlede week, kan ek met diepe simpatie en hartseer vir jou sê dat ek ook ’n gebroke mamma is.
My kind ly self aan verslawing (alkohol).
Ek is ook ’n enkelouer en gaan absoluut deur hel.
My kind was al by talle rehabilitasiesentrums, dokters, sielkundiges. Al die hulp wat ek moontlik kon inwin en kry, het ek vir hom gekry.
Verslawing is ’n siekte en geen instansie of dokter sal hom kan genees nie.
God sien ons hartseer en dit is net Sy Genade wat ons kinders kan red.
Ek sukkel finansieel en moet ook my kop hoog hou by die werk, maar diep binne in my is ek stukkend, gebroke en kry so seer wanneer ek ander jong mans van sy eie ouderdom sien wat al gevestig is en wat gelukkig getroud is.
Wanneer gaan dit eindig?
Ek is oneindig baie lief vir my kind en sien sy desperaatheid en magteloosheid en sy eie seer wanneer hy besef dat hy ons familie soveel hartseer veroorsaak en die begeerte om ’n normale lewe te kan lei, wat hom telkens ontwyk.
Ook ’n Gebroke Mamma