DIE Drakenstein Sentrum nooi mense wat gestremd is, om by hul aktiwiteitsgroep aan te sluit.
Die groep kom Dinsdae en Donderdae vanaf 08:30 tot 12:30 bymekaar by die sentrum in Suider-Paarl waar hulle artikels maak wat hulle dan kan verkoop. Groeplede word vervoer vanaf hulle wonings deur die drywers van die sentrum. Groeplede ontvang geen betaling vir die werk wat hulle verrig nie, maar ontvang wel die nodige stimulering wat hulle nie tuis sou ontvang nie.
Die doel van die aktiwiteitsgroep is om groeplede se selfbeeld te verhoog asook hul selfversekerdheid, om groeplede se interpersoonlike vaardighede te ontwikkel ten einde goeie menseverhoudinge te bevorder, om groeplede voor te berei vir moontlike inskakeling in die ope-arbeidsmark en vestigting van entrepreneurskap, om geleentheid te skep om groeplede se vaardighede te verhoog, om sosiale isolasie aan te spreek deur individue wat gestrem is in ’n groep saam te bring.
Lede sal naaldwerk doen, breiwerk, stopwerk, weefwerk, kralewerk, decoupage en rygwerk. Belangstellendes (18 jaar en ouer) moet gou spring om deel te wees van die projek. Kontak Annerine Julies by 021-863-0447. Mense wat as vrywilligers wil optree of wat naaimasjiene, gom, materiaal of enige bydrae wil maak is welkom.