VEERTIG kinders van Mbekweni het onlangs elkeen ’n kleurvolle Kinderbybel in hul moedertaal, Xhosa, van ’n Japanese besoeker ontvang.
Dié Bybels is uitgedeel aan die kleuters van Nellie Johnson se Makhuluf Happy Toddlers crèche.
Miwa Teauche is ’n lidmaat van die Gereformeerde Kerk in Japan wat noue bande met die Suid-Afrikaanse sendingorganisasie Missie Japan het. Vrouelidmate van haar gemeente op die eiland Shikoku, wat gehoor het van Christelike Lektuurfonds (CLF) se Kinderbybelprojek “Een miljoen Bybels vir een miljoen kinders”, het geld ingesamel vir Bybelverspreiding onder Xhosa-sprekende kleuters. Miwa was in Suid-Afrika om self die Xhosa-weergawe van die Kinderbybel, “God se kinders, Verhale uit die Bybel”, aan kleuters uit te deel. Hierdie publikasie is in Afrikaans, Engels, Sotho, Tswana, Xhosa en Zulu beskikbaar en is in samewerking met emeritus aartsbiskop Desmond Tutu saamgestel. Dit word deur CLF, ’n nie-winsgewende organisasie wat vanuit Wellington bedryf word, versprei.
“Danksy ’n groep omgee-Christenvroue in Japan kan ouma Johnson nou elke dag vir die kleinspan uit die Kinderbybel leer van Jesus se liefde,” vertel Christelle Vorster, bedryfsbestuurder van CLF.
“Die stories word kleurryk en meelewend oorvertel, en daarby kan elke kind boonop hul Kinderbybel huis toe neem waar nog meer mense die Woord kan lees.”
Johnson sê sy sien in die gebaar die hand van die Vader wat werk deur ander mense, selfs vanuit ’n ver land, om na Sy kinders om te sien.
Ouma Johnson, wat op 27 November haar 80ste verjaardag gevier het, vervul reeds 46 jaar lank haar roeping om kinders te versorg.
Sy sien nog daagliks saam met haar dogter Joyce om na meer as 60 kinders by die Makhuluf Happy Toddlers crèche, wat onder die bedieningsarea van die welwillendheidsorganisasie Ma’s-vi’-Wellington val.
Ds Tobie de Wet, ’n sendeling in Japan wat reeds die Kinderbybel aan verskeie ander kerke en groepe daar gewys het, sê hy verwag nog soortgelyke bydraes soos dié van die Shikokoh-gemeente.
Die Kinderbybels is teen R69,95 per kopie te koop by CLF. Mense wat die projek wil ondersteun, kan met ’n skenking van R100 twee Bybels aankoop of borg. Die geborgde Bybels word volgens ’n skedule aan alle laerskole in Suid-Afrika gestuur, maar donateurs kan ook ’n skool nomineer.
“Elke skool ontvang vier Bybels vir gebruik in die jonger klassies.”
Vir inligting oor die projek, kontak CLF by 021-873-6964 of besoek www.clf.co.za.