DIE Radio Kalahari Orkes maak Donderdag 9 Desember om 20:00 ’n draai by die Ou Meul-teater.
Sedert Radio Kalahari Orkes (RKO) se bekendstelling in 2005 KKNK, het hulle die harte en voete van die hele nasie landwyd opgeëis. Hulle navolgers is so wydverspreid soos hulle musiek. Voor in die koor is die geliefde stoepsitter van die Kalahari-oase, Boet (Ian Roberts). Hy lei die orkes in ’n lewendige, soms aweregse vertoning van die beste musiek wat Afrikaans sekerlik tans bied.
Die musiek is uniek en eg-Suid-Afrikaans, met invloede uit die hele skatkis van die land se kulture.
Op die album word geen genre met rus gelaat nie, van ghoema tot rock; kwaito tot boeremusiek en natuurlik nog vele meer. Die orkes se instrumente sluit in kitare, banjo’s, mandolien, mondfluitjie, kazoo, pennyfluit, viool, dromme en die pragtige Krummelpoppies se agtergrondstemme.
Die liedjies se lirieke draai ook nie doekies om nie. Die hele landskap van Suid-Afrikaner wees word ondersoek – van rugby tot affirmative action, van liefdesleed tot vleis-eet.
Uit die pen van Ian Roberts kom ook ’n skitterende lied oor die baasspeurder Piet Byleveld.
Die manne agter die wysies is hoofsaaklik Dan Roberts en skrywer-joernalis Rian Malan.
Kaartjies is R110 en kan bespreek word by Vicky Stemmet by 083-564-0056.