’n KERSKANTATE onder leiding van oud-Wellingtonner Appollis (Nol) Prins word Sondag 5 Desember om 10:00 by die VGK Wellington gehou, ten bate van die Paarl Post Kersfonds.
Oom Nol, soos hy bekend is, het baie liedere, in Afrikaans, Engels, Xhosa en selfs Hebreeus gekomponeer. Wat merkwaardig hiervan is, is dat hierdie liedere gekomponeer is sonder enige musiekopleiding.
Van sy bekende musiekspele is die Paaskantate, “Die Kruisweg” en die Kerskantate “Lig van die Węreld”, wat by verskeie kerke opgevoer is.
Sy nalatenskap is verewig in die Verenigende Gereformeerde Kerk in Suider-Afrika, met die skrywe van die VGK Lied. Hy het ook sy liedere geregistreer by SAMRO.
Oom Nol is gebore op 4 April 1935 in die Bovlei-omgewing en het sy skoolloopbaan begin by die Pauw Gedenk Laerskool en Bisseux Gedenkskool.
Vanweë omstandighede moes hy die skool op standerd vier (graad 6) verlaat. Op ’n vroeë ouderdom was sy sang- en musiektalente al duidelik sigbaar. Hy was altyd reg om mense te vermaak met sy talente en sy musiek kon enigeen lekker laat dans en jolig verkeer. Hy was koorleier van verskeie kore en is tans die koorleier van VGK Vanwyksvlei. Met sy stil en skugter karakter is hy nie iemand wat daarvan hou om opgehemel te word nie, maar doen alles in stilte en met nederigheid. Baie liedjies teken hy net met die skuilnaam “Expap”. Die kerk en gemeenskap in Wellington sou beslis armer gewees het sonder sy besonderse gawes, talente en bydrae wat hy tot koormusiek lewer.
Een van sy drome is om van sy liedere op te neem, maar vanweë finansiële kostes kon hierdie droom nog nie waar word nie.
Vir navrae oor die Kerskantate skakel 071-495-5035.