Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Bid jy hoef nie teen hom te sak nie

Bid jy hoef nie teen hom te sak nie
 
2005-10-06

Leon Steenkamp

HY’S ’n bul van ’n speler en presies wat enige afrigter in sy skrum se voorry wil hê.

Die Paarliet Janro van Niekerk het vanjaar menige loskopstut laat bid vir die eindfluitjie en het beslis ’n groot aandeel gehad in die welslae van Wellington Rugbyklub se eerste rugbyspan vanjaar.

Wellington is vanjaar vir die derde agtereenvolgende keer as die Boland kampioen gekroon en het die seisoen vir ’n tweede keer onoorwonne afgesluit.

“Hy is ’n baie sterk en goeie skrummer. Ek het vanjaar nog nie een speler in ons klubwedstryde gesien wat hom kon terugskrum nie,” vertel Wellington se afrigter, Jaco Stoumann.

Kyk ’n mens na Van Niekerk kan jy verstaan hoekom enigiemand ’n moeilike tyd sal hê om hom in trurat te sit.

Met ’n soliede spiermassa van 115kg versprei in sy 1,82m is dit te verstane dat hy ’n gedugte teenstander in die voorry is.

Dit is dus geen wonder dat die 22-jarige vanjaar in die Springbok Amateurspan ingesluit is nie.

“Ek was baie bly toe ek die nuus gehoor het. My pa was buite homself van blydskap,” beskryf Janro die emosies in die huis toe hy die goeie nuus gekry het.

Janro se pa, Johnny, is ’n groot rugbyliefhebber en was sy lewe lank nog betrokke by die sport.

“Hy is beslis my grootste ondersteuner,” voeg Janro by.

Die jong stut se vreugde was egter van korte duur.

Van Niekerk was in die begin vyftiental ingesluit vir die wedstryd teen Zimbabwe in Harare, maar tydens die kapteinsoefening teen die WP Amateurspan het die Paarliet sy liesspier gerek.

“Sjoe, ek was bitter teleurgesteld toe ek die wedstryd teen Zimbabwe moes uitsit,” vertel hy terwyl hy steeds effe ongelowig sy kop sit en skud.

“Maar dié naweek kry ek my kans. Dit is die groot een waarvoor ek gewag het,” het hy verlede Woensdag entoesiasties vertel.

Twee weke van fisioterapie het beteken dat Janro Saterdag op Ellispark ten einde laas in ’n Springbok-trui kon uitdraf.

Die Suid-Afrikaners het egter die span van Uganda totaal oorheers en die wedstryd 98-10 vernietig.

“Die wedstryd self was van die begin af ’n ‘walkover’ gewees en die spelers was ’n bietjie teleurgesteld in die kompetisie, maar dit was nogtans heel lekker.

“Die opbou na die wedstryd was baie opwindend. Die keurders het voor die tyd met ons gesels en gesê dat as dit vanjaar goed gaan, kan die samestelling van Springbok Amateurspan ’n jaarlikse instelling raak.

“Dit was ’n goeie leerskool en ek het heelwat vriende gemaak.”
Sy insluiting in die span span die kroon op sy reeds indrukwekkende rugby-CV.

Janro het in 2001 aan Boishaai gematrikuleer en daardie jaar Gimnasium behoorlik uitmekaar geskrum vir ’n 12-3 sege.

Hy verteenwoordig die Boland o.19 span voordat hy ’n junior kontrak by die Blou Bulle losslaan en onder andere vir die Ligbloues se Meriete A-span uitdraf.

In 2004 keer hy terug Paarl toe om te studeer en speel vir Wellington Rugbyklub. Hy word dan ook in die Boland Merietespan ingesluit, ’n prestasie wat hy vanjaar herhaal.

Janro hoop sy insluiting in die nasionale amateurspan is nog ’n tree nader aan die Springbok-span, maar hy is nie te haastig nie.

“In my posisie (loskopstut) moet jy nie te vinnig wil Springbok speel nie. Ons ouens piek maar eers later en hoe ouer ’n voorry is, hoe moeiliker is dit om teen hom te skrum.”

Daarom is dit vir hom belangrik dat hy vir eers sy kursus in Landbou-bestuur aan die einde van die jaar voltooi aan die Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie (CPUT) op Wellington.

“Ek wil maar eers iets agter my naam kry, mens weet nooit wat kan gebeur nie.” sê die nederige groot kêrel.



More News
  • Kavaliers moet momentum gebruik
  • Sewes-aksie begin reeds môre
  • Baie visse uitgetrek
  • Standards koning
  • Last shot at gun run
  • Entries open for local MTB race
  • Wedvlug-duiwe
  • Sportdagboek
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za