Klein skool dra by tot Kersfonds
2010-12-02
EEN van die kleinste skole in die Paarl, Laerskool Slot van die Paarl, het ’n fondsinsameling vir welsyn gehou, en altesame R600 ingesamel vir die Paarl Post Kersfonds. Dalweide Primêr se leerders het ook nie op hul laat wag nie, en ook R600 geskenk. Dit bring vanjaar se insameling te staan op R22 357,46. Daar is nog net twee weke oor om ’n bydrae te maak tot die Kersfonds, wat elke jaar 30 verdienstelike plaaslike welsynsorganisasies steun wat gekeur is deur die Wes-Kaapse Gemeenskapskas. Die Gemeenskapskas maak reeds aansienlik bydraes tot hierdie welsynsorganisasies in die Paarl Post se lesersgebied en lesers word uitgenooi om dié poging ’n hupstoot te gee met bydraes tot die 2010 Paarl Post Kersfonds. Alle plaaslike bydraes word in ’n afsonderlike bankrekening inbetaal en deur die Gemeenskapskas teruggeploeg in die Paarlvallei - geen bydraes van ons lesers sal aan begunstigdes buite die Paarl Post se lesersgebied uitbetaal word nie. Die Gemeenskapskas se begunstigdes in die Paarlstreek sluit in die ACVV, Badisa Paarl en Wellington, Kindersorg Paarl & Distrik, Drakenstein sentrum vir liggaamlik gestremdes en Andrew Murray Kinderhuis, Skenkings kan direk inbetaal word in die Gemeenskapskas/Paarl Post Kersfondsrekening 6215 202 9007 by FNB (taknr 261150) en faks die strokie na 086-270-3693. Navrae by 021-870-4602.
More
News
|