Berg brand byna weer
2010-12-02
Lise Beyers
INWONERS van die Paarl het verlede Donderdag angstige oomblikke beleef toe vlamme teen Paarlberg uitgebars het. Dit was ’n donker herinnering aan die verwoestende brand wat verlede jaar 4000 hektaar van die berggrond verwoes het. Verlede week se brand het om agter wonings in Non Pareillestraat-Noord ontstaan. Weens die oplettendheid en behulpsaamheid van lede van die publiek, is die brand vinnig geblus deur die Drakenstein Brandweerdiens. Daar word vermoed dat die brand ontstaan het toe iemand ’n vuur onder ’n boom gemaak het. Die brandweer krap steeds kop, want toe die brand geblus is, is daar ’n verbrande stel boeie op die toneel gevind, maar daar was geen teken van die skuldige nie. Terwyl die brandweer hier gespook het, het nog ’n veldbrand chaos veroorsaak op die Wemmershoek-pad naby Boschenmeer. Die brand is aangehits deur stormsterk winde en die rook het sigbaarheid op die pad verhinder. Hier is ook geen skade aan strukture aangerig nie, alhoewel Boschenmeer vir ’n geruime tyd deur ’n digte rook-kombers bedek is. Die brand wat in Paarlberg ontstaan het, was kommerwekkend naby aan die kloof agter die Voortrekkerkamp, waar die 2009 brand ontstaan het. Inwoners van Carlettastraat het onlangs kommer uitgespreek oor die feit dat die Drakenstein Munisipaliteit wel ’n brandbaan laat kap het op gedeeltes van die berg naby huise, maar steeds niks aan hierdie oorgroeide kloof gedoen het nie. Indien ’n brand hier uitbreek, soos verlede jaar, ontaard die gebied in ’n vuurpoel, soos wat die indringerbome brand en ontplof. Gedeeltes van hierdie woud loop tot teenaan wonings en hou ’n werklike gevaar vir huiseienaars in. En om die situasie te vererger, maak bosslapers hulself hiér tuis waar hulle ook dikwels vure maak. Volgens die Munisipaliteit is hulle bewus van hierdie gevaar, “maar daar is eenvoudig net nie genoegsame fondse om die kloof skoon te maak nie,” het ’n amptenaar gesê. ’n Woordvoerder van die brandweer, Dereck Peceur, het die publiek gemaan om uiters versigtig te wees met oop vlamme in die volgende klompie droë maande. “Ons vra dat indien die publiek ’n effensie rokie sien trek, veral op gevaargebiede soos die berge, hulle dit dadelik aan ons rapporteer by 021-872-2323”. * Paarlites were reminded of last year’s devastating fire on Paarl Mountain, when a small area of the mountain was set alight last week.
More
News
|