Krisis by musieksentrum
2010-12-02
Anne Kruger
DIE Frank Pietersen Musieksentrum ind ie Paarl is in ’n finansiële krisis, en twee personeellede wat beheerraadsposte beklee, is afgedank om kostes te besnoei. Personeellede is bitter ontevrede omdat hul twee kollegas (’n egpaar wat op die perseel woon) ook hul blyplek (’n klaskamer wat as woonstel ingerig is) moet ontruim en dus eersdaags huisloos is. Die een is ’n administratiewe klerk, terwyl sy vrou deeltyds bibliotekaresse is. Nog ’n personeellid wat deur die Departement van Onderwys vergoed word, moet ’n verlaagde salaris aanvaar omdat die subsidie van die beheerliggaam uitgefaseer word. Die optrede spruit uit ’n besluit van die beheerliggaam dat dringende stappe gedoen moet word om die sentrum se finansies reg te ruk. Die sentrum, met Vaughan Pietersen as hoof, fokus daarop om musiekklasse te bied aan mindergegoede kinders van die Paarl, maar daar is groot probleme met die invordering van agterstallige klasgeld, asook ouers se betaling vir vervoer, wat deur die sentrum verskaf word. Baie ouers kan nie die gelde bybring nie. Ná die aankondiging oor die egpaar wat uit die woonstel gesit word teen einde Desember, het drie beheerliggaamslede bedank uit protes teen dié “onwrikbare” optrede. “Dit is Kerstyd waar ons in harmonie moet lewe, maar mense word van hulle werk ontneem en ook hulle woonplek,” het ’n ontstoke personeellid aan Paarl Post gesê. Vrae word gevra oor die finansiële bestuur en onderbenutting van die gebou. Die sentrum het tans 150 individuele leerders wat in die middae klas het. Daar is ook kore en ensembles wat smiddae oefen. Die onderwyspersoneel se salarisse, asook die huur van die perseel en die munisipale rekening word deur die provinsiale regering betaal. Die telefoonrekening, bykomende personeel en aankoop van musiekinstrumente moet uit klasgelde betaal word. Volgens die voorsitter, Ron Morris, is daar ’n besluit geneem dat die sentrum op ’n gesonde wyse bestuur moet word, en was hierdie besnoeiings dus noodsaaklik. “Die versterkte finansiële komitee het ’n deeglike analise van die sentrum se finansies gedoen en daar is tot die slotsom gekom dat indien ons wil oorleef en groei, daar besparingsmaatreëls getref sal moet word. Die grootste uitgawe is op die beheerliggaamposte. “Ons het gister ‘n ouervergadering belê om te praat oor beter betaling van vervoergeld, anders word die drywer se indiensname ook beïnvloed.”
More
News
|