Skaap kruip weg in kattebak
2010-12-09
LEDE van Paarl polisie het Sondag ’n vreemde ontdekking gemaak, toe hulle ’n voertuig aangekeer het vir ’n roetine-deursoeking. Hulle het vroeg Sondagoggend ’n padblokkade beman in Optenhorststraat, toe die motor aangekeer is. Die beamptes het die bestuurder se lisensie nagegaan, asook die motor se besonderhede. Hulle het op die lisensieskyfie gesien dat die voertuig in 2008 laas gelisensieer is en het toe besluit om meer deeglik ondersoek in te stel na die voertuig. Die drywer is gevra om die kattebak oop te sluit, maar in plaas hiervan het hy die kap oopgemaak. So het hy vir ’n hele ruk gehuiwer om die kattebak oop te maak, en toe hy dit uiteindelik doen, het daar tot polisiebeamptes se verbasing, ’n lewendige skaap uitgepeul. Kort op die hakke van hierdie voorval, het lede van dieselfde polisiestasie afgekom op ’n voertuig wat sonder brandstof gaan staan het naby Hoër Landbouskool. Weer is daar snuf in die neus gekry en nadat die motor deursoek is, is die omliggende gebied gefynkam. Nie ver van die motor af nie, is nog twee skape wie se pote vasgebind was, in ’n sloot gevind. Nadat die polisie albei partye afsonderlik ondervra het, het hulle met die hele sak patats uitgekom dat hulle almal saam te werk gegaan het om skape te steel in die Windmeul-omgewing. Drie mans is in hegtenis geneem en aangekla van vee-diefstal. * Police found a live sheep hidden in the boot of a vehicle which they had searched at a routine road-block.
More
News
|