Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Van koning tot armlastige, beweer King

Van koning tot armlastige, beweer King
 
2010-12-09

Melissa Tighy

DIE gemoedere loop hoog in die King-verhoor tydens die openbare likwidasie-ondervraging wat tans in die siviele hof in Wellington aangehoor word.

Adrian King, besturende direkteur van die King- groep, voer aan dat hy maar min geweet het wat in die geldsake aangaan, en het indirek die blaam op die skouers van sy oorlede broer, Paul, geplaas.

“Ek was glad nie betrokke by finansies nie, en as ek betrokke wou raak, was ek deur Paul gestop,” sê Adrian wat blykbaar hoofsaaklik betrokke was by die bemarkingsafdeling. Dr Paul King het verlede jaar selfmoord gepleeg.

So ook antwoord Adrian op die vrae oor die bankstate, “I haven’t got a clue,” toe dit aan die lig kom dat daar verskeie ongerymdhede was.

Die aandele van die King-groep is verkoop vir R1 aan die publiek, terwyl die King-broers en hul vennote die aandele opgeraap het vir net 1c. “Dit was ons maatskappy,” voer Adrian aan.

Daar is ook gevind dat daar 120 miljoen aandele gekoop is deur die King-vennote terwyl daar net R94,25 in die bank was.

Advokaat Almero de Villiers het aan King die vraag gestel of hy besef het dit bedrog was. Adrian se antwoord hierop was “ja”.

Daar het ook aan die lig gekom dat hy in September R185 000 uit die Adrian King Trust onttrek het nadat daar ’n onderneming was om nie aan die geld te raak nie, omdat hy insolvent verklaar is. Dit was blykbaar om sy kinders se studielenings te dek.

’n Prokureur van die Kings het volgens Adrian ’n bedrag van R95 000 onttrek uit die trust sonder die toestemming van die trustees.

“Kyk hoe vat hy die geld - dan mag ek ook,” sê Adrian.

Verder gaan dit maar broekskeur met Adrian King. Hy het in die hof aangevoer dat hy hoenders verkoop om aan die lewe te bly.

Op die vraag op die vermiste R600 miljoen dalk in Switserland versteek is, het Adrian geantwoord, “Dit is mos belaglik, ek het in persoon geen sent van daardie geld gesien nie”.

Hy vertel verder dat sy kinders vir hom kos voorsien, so ook ry hy skrootmetaal aan om kos te koop.

“Ek het nie eers geld om in die dorp te kom nie, ek leen ’n bakkie omdat ek nie geld het om my kar reg te maak nie - sou ons so lewe as ons geld het wat weggesteek is?”

Jean Slabber, familielid en vennoot, word ook nou gesoek nadat hy die dagvaardiging ontduik het wat hom verplig om in die hof te verskyn.

Adrian sê Jean het baie geld “geleen”, maar nooit terugbetaal nie.

Tommy Leigh, ’n Christelike raadgewer, is ook blykbaar R50 000 per konsultasie betaal om vir Paul te bid en te help met kontakte opbou.

“Tommy het met Paul se kop gesmokkel,” vertel Adrian.

Die Raad op Finansiële Dienste het beslis dat die King-groep nie meer aandele mag verkoop nie, nadat die skrif aan die muur was weens finansiële ongerymdhede. Die Kings het egter voortgegaan en aandele verkoop van R1,3 miljoen in Mei 2009.

Adrian King het nie juis antwoorde gehad op enige van die vrae van die advokaat nie, alhoewel die vorms deur homself onderteken was.

Geld van beleggers van die King-groep is benut op die plase van Kilcairn en Timmerman Plaasje, wat blykbaar inkomste moes genereer vir die King belange.

Adrian sê dat dit nie hul bedoeling was om te bedrieg nie.

“Ons bedoeling was om ’n goeie maatskappy te hê vir kliënte om hul beleggings te doen,” sê hy.

Hy sê egter dat die hele proses “oordoen” was, en dit is waar die moeilikheid begin het.

Die King-debakel word ook deur die Valke ondersoek, en kriminele klagtes kan volg teen die betrokkenes.

Louise King, gewese vrou van Adrian, is ook ondervra in die hof. Volgens haar het sy ’n salaris van R30 000 verdien uit die trust elke maand.

Alida Nel, wat ook betrokke was by die King-groep, verskyn vandag in die hof.




More News
  • Musikant sterf na perdry-tragedie
  • Land-grab chaos in Mbekweni
  • Hawelose-probleem in Paarl aangepak
  • Man in die knyp oor dwelms
  • Sparks fly at Working for Water
  • Delegation to tackle housing problems
  • Diewe takel Wellington besighede
  • Misdadigers sit lank
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za