Nuwe baadjie vir Paarl-middedorp
2010-12-09
Lise Beyers
NA byna tien jaar van onderhandelinge en samesprekinge is die wiele uiteindelik aan die rol vir die Paarlse middedorp-ontwikkeling. Hierdie herontwikkeling geskied as deel van ’n vennootskap tussen die Drakenstein Munisipaliteit en aandeelhouers vanuit die privaatsektor, wat hoofsaaklik bestaan uit sakemanne met belange in die middedorp. En volgens die gemeenskap kom hierdie ontwikkeling nie ’n oomblik te vroeg nie. Die Paarl middedorp het veral sedert die opening van die Paarl Mall agteruitgegaan. Nie net is winkeleienaars talle klante kwyt nie, maar misdaad het hiér begin posvat, die gebied het begin verval, rommelstrooiery het toegeneem en smouse het toegeneem. Kortliks, dit het ’n onaangename omgewing vir koop-geesdriftiges geraak. Maar nou is daar lig aan die einde van die tonnel met die middedorp wat uitgedos gaan word met ’n sprankelende nuwe baadjie. Veilige, betaalde parkeergebiede, geplaveide wandellane met ’n verskeidenheid van interessante winkels, bykomende bome, opgeknapte geboue, en selfs ’n nuwe klein winkelsentrum is op die kaarte. En deurgaans is die fokus op veiligheid, met bykomende sekuriteitskameras wat opgerig sal word en ’n onderneming van die Munisipaliteit dat hul wetstoepassers deurgaans teenwoordig sal wees om die dorpsregulasies toe te pas. Die eerste fase van die herontwikkeling skop binnekort af, wanneer Jan Phillips-plein ’n betaalde parkeergebied word. Amptelike parkeeraanwysers word tans opgelei. Hulle sal parkeergebiede reguleer met hand-toestelle waarin die bestuurder se motorregistrasienommer opgeneem sal word. Bestuurders kan dan vir die aanwysers aantoon hoe lank hulle sal parkeer en daarvoor betaal (R3 per halfuur). Indien hulle terugkeer ná die betaalde tydperk, sal hulle ’n bykomende betaling moet maak. En indien die bestuurder besluit om weg te ry sonder om te betaal, sal hulle ’n boete vanaf die munisipaliteit ontvang, aangesien hul registrasienommer in die toestel opgeneem is. Hierdie betaalde parkeerstelsel sal ook van toepassing wees in die omliggende gebied insluitend Fabriekstraat, Lady Greystraat vanaf Hoofstraat tot en met Versterstraat, en die gedeelte van die Hoofstraat in die omgewing van die ou poskantoor. Die fondse wat hieruit ingewin word, sal gebruik word om hierdie parkeergebiede op te knap, met nuwe plaveisel en genoegsame bome. Vroeg in 2011 word Patriot-, Wamakersplein en die ou rugbyveld tussen Patriotplein en Van der Lingenstraat omskep in betaalde parkeergebiede, wat met valhekke beheer sal word. En dan word ’n nuwe winkel-sentrum beoog agter Patriotplein. ’n Aandeelhouer wat druk betrokke is by die ontwikkeling, Johan Pauw, het gesê dat hierdie jarelange proses om die nodige goedkeurings te verkry vir die herontwikkeling van die middedorp in die langtermyn die moeite werd gaan wees. “Ons beplan om die Paarl weer in ’n veilige, gewilde en interessante sakekern te om- skep. “Daar is talle voorbeelde landwyd waar die herontwikkeling van ’n vervalle sakekern suksesvol aangepak en uitgevoer is - kyk net byvoorbeeld na Kaapstad. “Veiligheid is ons eerste prioriteit en ons sal ’n houding van geen-toleransie inneem teenoor oortreders. Die algehele gebied sal opgeknap word en hierdeur sal ons nuwe uitsoekwinkels na die middedorp lok. “Ons beoog wandellane tussen geboue en wil graag kunsstalletjies na die omgewing lok. Die plan is om die Paarl-middedorp ’n voorbeeld van kommersiële vernuwing te maak in die Boland.” Pauw kan gekontak word by 021-872-0471 vir navrae, ook oor langtermyn-parkering.
More
News
|