Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Herrie by Hugenote Kollege

Herrie by Hugenote Kollege
 
2010-12-09


PERSONEEL van die Hugenote Kollege was onlangs erg geskok toe ’n vertroulike e-pos wat vir die waarnemende rektor, prof Ignatius Swart, bedoel was, onder die oë van al die personeel beland het.

Die e-pos oor die herstrukturering van die kollege, het onder andere die nuwe organigram van die kollege vir 2011 bevat, asook die name van die personeel wie se poste geaffekteer sou word.

Dit is duidelik gestel in die voorlegging dat die voorgestelde herstrukturering van die kollege met ’n uitfaseringsproses moet voortgaan, omdat die Departement van Hoër Onderwys verskeie samewerkingsooreenkomste tussen die kollege en ander hoër onderwysinstellings afgekeur het.

Verder word daar aangevoer dat Hugenote Kollege nie in staat is om finansieel as privaatinstelling sonder staatsubsidie voort te gaan nie, dus het die direksie geen ander opsie gehad as om in beginsel te besluit om die kollege te herstruktureer en huidige akademiese voorgraadse en nagraadse kursusse uit te faseer nie.

Die voorgestelde uitfaseringsproses sal oor ’n tydperk van twee jaar geskied en moet teen die einde van 2012 afgehandel wees.

Personeel is daarna deur “bestuur” byeengeroep en vir die flater om verskoning te vra.

Personeel is voorts baie ongelukkig omdat die sogenaamde topbestuur glad nie deur die herstrukturering geaffekteer is nie en inteendeel nog swaarder geword het, met die byvoeging van ds André du Toit as hoof van administrasie.

Toe die voorsitter, ds Willie van der Merwe, tydens die vergadering gevra is na die sakeplan vir 2011 het hy erken dat daar nog nie ’n sakeplan bestaan nie.

Hy is daarna deur die onderhandelingskomitee gekonfronteer met die feit dat bestuur reeds mense identifiseer wie se poste geaffekteer sal word, terwyl daar geen sakeplan op die tafel is nie.

En boonop meen senior personeellede dat die huidige drie bestuurslede hoegenaamd nie bestuurservaring het nie.

Twee van die vakbondlede van onderskeidelik Nehawu en Solidariteit het verlede week die opvolgvergadering bygewoon en op grond van genoemde aksies die “bestuur” onomwonde daarop gewys dat hulle buite die wet handel en oneties optree.

Die saak word direk na die CCMA geneem om met werkers se eise te handel.

Verder het ten minste twee personeellede wat afdanking in die gesig staar, in die hospitaal beland weens gesondheidsprobleme. Diegene naby aan hulle meen dat dit weens stres is om die hele aangeleentheid.

Ds Van der Merwe het bevestig dat daar nie eerstejaarstudente vir enige hoër onderwysprogram aan die begin van 2011 aanvaar sal word nie en dat die bestaande programme aan die einde van 2012 uitfaseer sal wees.

Maatskaplikewerk-studente sit hul studies voort by die Universiteit van Stellenbosch.

“In die lig hiervan het die direksie begin met ’n ondersoek na ander moontlikhede vir die kollege. Die ondersoek is nog aan die gang en geen finale besluite is geneem nie.

“My opmerking in die personeelvergadering dat daar nog nie ’n sakeplan bestaan nie, het betrekking op hierdie ondersoek en ek het dit duidelik gespesifiseer.

“Daar bestaan wel ’n sakeplan vir 2011 vir die uitfasering van die huidige hoër onderwysprogramme. Die konsultasieproses met die personeel het reeds begin.

“Ek is oortuig daarvan dat die proses wetlik korrek bestuur word en dat regverdigheid en billikheid te alle tye voorop gestel word.”

Verder, as deel van die voorgestelde herstruktureringsproses van die kollege, beplan die direksie om Hugenote Kollege voort te sit as ’n kerklike kollege wat fokus op voortgesette opleiding in die maatskaplikediens- en teologievelde.

Studente wat so pas hul eerste jaar voltooi het by die kollege, sal hul studies moet voortsit by Stellenbosch Universiteit.




More News
  • Musikant sterf na perdry-tragedie
  • Land-grab chaos in Mbekweni
  • Hawelose-probleem in Paarl aangepak
  • Man in die knyp oor dwelms
  • Sparks fly at Working for Water
  • Delegation to tackle housing problems
  • Diewe takel Wellington besighede
  • Misdadigers sit lank
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za