Drakenstein Edu lewer goeie vertoning
2010-12-09
DRAKENSTEIN Edu Krieketklub het sy goeie vertonings voortgesit toe sy eerste en derde spanne hul wedstryde verlede naweek gewen het. Verlede Sondag op Ceres het die eerste span die vrugteboere op ’n drafstap met vyf paaltjies geklop. Ceres het die loot gewen en eerste gekolf. Puik boulwerk deur Jordan Evans, 3/21, Chester Kuiler 3/31 en Gerswin Philander 2/11 het die tuisspan tot 169 beperk. Drakenstein se kolfbeurt het nie goed begin nie, en 3 vinnige paaltjies het Ceres so ’n bietjie hoop gegee. Gerwin Cook het egter ’n vasberade vasbyt-beurt van 54 lopies gespeel en saam met sy kaptein Lindsay Davy, die wa deur die drif getrek. Davy het korte mette met die Ceres boulaanval gemaak en net 23 balle vir sy 40 lopies nodig gehad en 1 ses en 4 viere gemoker. Cook se beurt het van volwassenheid getuig, en hy is welverdiend as speler van die wedstryd aangewys. Drakenstein het die wenlopies in die 38ste beurt behaal. Die klub se derde span het sy veggees ten toon gestel toe hy op ’n moeilike Cput-blad vir net 114 lopies deur Northdene 2 uitgeboul is. Net Ashley Isaacs, 30, kon lopies kry teen die oneweredige wip. Northdene het hulle egter vasgeloop teen verwoestende boulwerk van die 15-jarige Lyall Pienaar wat 6 paaltjies in net 5 beurte laat spat het. Pienaar het net 3 lopies afgestaan en die Northdene kolwers laat voetpaadjie uittrap pawiljoen toe. Die ander jongeling, Hirose Steenberg, was self kookwater en het in 4 beurte 2/6 met sy draaiballe ingeoes. Drakenstein 2 het egter ’n gulde kans om Maties 2 te klop, deur die vingers laat glip. Goeie boulwerk deur Juliano Philander, 3/20, en Butch Green, 3/26, het Maties tot 195 beperk. Drakenstein het egter vanaf 120/3 tot 152 almal uit gekapituleer en die wedstryd op ’n skinkbord aan Maties gegee. Die klub se familiedag is 16 Desember, terwyl hy op 18 Desember aan Paarl KK se ses-aan-’n-kant-toernooi gaan deelneem.
More
News
|