Double V United wen eerste sokker-derby
2005-10-06
DIE spanning het hoog geloop tydens die derby-wedstryd Sondag tussen Paarl Pirates en Double V United.
Die kragmeting het groot belangstelling uitgelok en die toeskouers was ook nie teleurgestel nie.
Aanskoulike sokker het die wedstryd gekenmerk terwyl die spelers baie fisies en doelgerig mekaar probeer onderkry het.
Pirates het sommer vroeg Double V se doelgebied bedreig, maar goeie verdediging deur die doelwagter Bevan “Leeu” Christiaan, wat dikwels sy lyf op die spel geplaas het, het hulle verhoed om ’n doel aan te teken.
Laat in die eerste helfte word ’n vryskop aan Pirates toegeken nadat die skeidsregter beslis het dat Christiaan, Pirates se Brian Arendse opsetlik gepootjie het.
Arendse (doelskopper) maak geen fout nie en plant die bal agter in die net.
Double V se doelskoppers het heelwat geleenthede gehad om sake gelyk te maak, maar kon dit nie in punte omskep nie.
In die tweede helfte het ’n paar veranderings aan Double V die span met nuwe ywer laat speel.
Kort voor die einde is Double V se knaende aanvalswerk beloon, toe Elrick van der Westhuizen (doelskopper) die gelykmaker aanteken.
Die 20 minute ekstra tyd kon geen verdere doel oplewer nie en die wenner moes deur middel van strafdoele bepaal word.
Ook hier was sake egter gelyk, met al vyf doelskoppers wat die agterkant van die net gevind het.
’n Uitklop-doelskop was hierna al genade en toe Christiaan die Pirates se agste strafskoppoging deur Japhta Pietersen suksesvol afgekeer het, het die Double V ondersteuners uit hul velle gespring.
In die ander wedstryd het Double V se naasbeste ook die Drakenstein Sokker Assosiasie (DSA) Skild verower toe hulle vir Pirates 4-1 geklop het.
Pirates het egter ’n stukkie blinkgoed huis toe gevat danksy hul vroue-span wat Double V 1-0 geklop het.
Ander uitslae: o.11: Pirates wen 6-0, o.13: gelykop 1-1. o.17: Pirates wen 3-1.
* Safa Boland hou die naweek hul finale strategiese beplanningsessie by die Brandvlei Gevangenis. Die kompetisie-formaat, registrasiegelde en hoofkantoor van Safa Boland sal bespreek word. Navrae: Lutfie Hendricks 872-3240.
More
News
|