Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Salies het musiek in hul bloed

Salies het musiek in hul bloed
 
2010-12-09

Liezl Davids

WANNEER die Salies-kinders oefen, moet ma en pa maar vergeet van televisie kyk.

Felicia (17), Danielle (13) en Francisco (21) Salies van die Paarl het hulle liefde vir musiek by hul ouers geërf, en maak beslis gebruik van hul Godgegewe talente.

Hul pa, Daniel speel die orrel en klavier en hul ma, Evelyn het blokfluit gespeel.

Francisco wat van kleins-af lief daarvoor was om Sondae in die kerk langs sy pa te sit terwyl hy orrel speel, het besluit om dié instrument ’n probeerslag te gee.

Hy speel nou reeds vir vyf jaar orrel, het vanjaar die Sakof beurs gewen en het sy graad 7 Unisa-eksamen met lof geslaag.

Ouboet is net so trots op sy twee jonger sussies wat vir ’n mens ’n ding of twee kan wys met ’n viool in die hand.

“Ek is baie bly vir hulle wat so goed vaar. Hulle motiveer my om my beste te doen en hard te oefen,” sê Francisco.

Felicia wat reeds al vir tien jaar viool speel, is onlangs as Student van die Jaar aangewys by die Musieksentrum Hugo Lambrechts in Parow.

Sy is ook ’n lid van die nasionale MIAGI-orkes en by die sentrum is sy die leier van die Intermediêre Strykers en die Simfonie-orkes.

In die Royal School-eksamen het sy 143 punte uit 150 behaal. Sy het ook by die Stellenbosch-kunswedstryd twee keer cum laude ontvang en by die Paarlvallei-eisteddfod drie keer, en die Senior-beker gewen.

Sy was ’n finalis by die Pieter Kooij-kompetisie en by die internasionale kamermusiekfees op Stellenbosch was sy eerste viool in die konsertorkes.

Met al die kompetisies en optredes wat Felicia al aan deelgeneem het, sê sy sy voel steeds senuagtig voor sy op die verhoog gaan.

Felicia het vanjaar haar graad 12 loopbaan by New Orleans Sekondêr voltooi en sy moes haar studies en haar vioollesse goed balanseer. Sy gaan volgende jaar musiek studeer aan die Universiteit van Stellenbosch.

“Ek wil graag eendag kinders leer hoe om viool te speel, sodat hulle kan ervaar wat ek ervaar, wanneer ek speel.”

Om te ontspan luister sy na klassieke musiek en vir die Desembervakansie wil sy nie veel doen nie, net in voeling bly met viool speel.

Felicia het haar eerste viool as ’n Kersgeskenk van haar ouers gekry en dié viool het Danielle weer geërf. Felicia sal net graag met haar eie viool wil speel omdat sy tans een moet leen.

Kleinsus Danielle wou glo eers nie viool speel nie, maar omdat Felicia vir haar by ’n musiekskool ingeskryf het, het sy toe maar begin speel en later baie daarvan gehou.

Danielle is in graad sewe by New Orleans Primêr en speel nou reeds vir vyf jaar viool.

Vir haar uitsonderlike prestasies vanjaar is sy as die beste student in die junior-afdelings aangewys by die Hugo Lambrecht Musiekskool. Sy is die leier van die Jong Strykers en het by die Paarlvallei-eisteddfod die Junior-beker verower. Vir Unisa se graad 5-eksamen is sy op die ererol geplaas en in die Sanlam Nasionale Musiekkompetisie het sy die derde ronde bereik.

Volgens Danielle geniet sy dit vreeslik baie om viool te speel en te oefen.

“As ek nie by die oefening is nie mis ek uit.”

Volgens Felicia oefen hulle drie soms tegelyk in die huis, elkeen in hul eie kamer. Na watter note ma en pa daardie tyd luister, sal niemand weet nie.




More News

 
    [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za