’n HOTEL, ’n kerkie, ’n spoggerige onthaalsaal en klein toerismesentrum. Dit is van die planne wat Simonsvlei Wynkelder in die mou voer vir 2012.
Dié wynkelder is tans besig met ’n aansoek om onderverdeling en hersonering vir die oostelike gedeelte van die terrein, in samewerking met Rooibok Eiendomsgroep.
Volgens stadsbeplanner PJ le Roux is dit die eerste stap in die beoogde ontwikkeling van ’n deel van die terrein met die oog op waardetoevoeging. Die tuine word herskep om verskillende temas te kan akkommodeer met die oog op die aanbieding van funksies, expo’s en troues.
Die toerismesentrum sal veral gefokus wees op agri, wyn en spyseniering, en ander geassosieerde gebruike van ’n wynkelder.
Ontwikkeling van die bekende baken sal na verwagting waarde tot die toerismebedryf en werkskepping tot gevolg hê.
Le Roux sê wetlike prosesse wat nog gevolg moet word, en nakoming daarvan, kan nog ’n jaar duur.